Advertorial
GEORGE SAKENUUS - Die span kundiges van die Diabetiese Sentrum vir Uitnemendheid (Diabetes Centre of Excellence) het onlangs 'n nuwe spanlid ryker geword in die gedaante van Mieke Steenekamp wat as dieetkundige en diabetiese afrigter aangestel is.
Sy is 'n tipe 1-diabeteslyer wat op 11-jarige ouderdom gediagnoseer is. Uit haar ondervinding is 'n passie vir dieetkunde gebore, wat haar gemotiveer het om 'n BSc-graad in dieetkunde aan die Noordwes- Universiteit, Potchefstroom te verwerf.
Sy kan pasiënte raad gee uit eerstehandse ondervinding. Sy werk 'n individuele eetprogram vir elke pasiënt uit rondom sy of haar lewenstyl en kosvoorkeure.
Dr. Jacques van Staden, wat die sentrum in 2007 saam met suster Maureen Barnard op die been gebring het, sê hulle behandel alle tipes diabetes. Die sentrum is die enigste verskaffer van insulienpompe in die Suid-Kaap. Gevorderde tegnologie in dié verband maak dit vir die pasiënt makliker om sy/haar toestand te bestuur.
Van Staden sê dit is sy ondervinding dat diabete baie keer onkundig is oor verskillende aspekte van die siekte. "Deel van wat ons hier bied, is behoorlike opvoeding oor diabetes sodat die pasiënt optimale voordeel uit hul behandeling kry. Daar is belangrike fynere detail, soos wanneer jy insulien moet spuit, die regte gebruik van die insulien, hantering van lae en hoë bloedsuiker, en baie meer. 'n Druppel of twee insulien wat verlore gaan as die spuit nie reg gebruik word nie, kan byvoorbeeld 'n verskil in suikervlakke maak."
Hy sê baie tipe 2-diabete gebruik medikasie, maar hulle pas nie hul eetgewoontes aan nie. "Dit is so onnodig dat komplikasies ontwikkel, dat mense blind word, ledemate afgesit word en niere oppak. Deur diabetes reg te bestuur, kan pasiënte 'n gesonde, vol lewe geniet."
Van Staden is onder die algemene publiek bekend vir C4D (Cycle for Diabetes), 'n nie-winsgewende organisasie wat geld insamel om kinderstaatspasiënte met tipe 1 diabetes van analoog-insulien te voorsien.
Kontak: 044 874 4990
Adres: Cathedralstraat 56
Die vriendelike span van die Diabetes-sentrum, van links: Maureen Barnard, Mieke Steenekamp, Jayne Turner, dr. Jacques van Staden, Jorinda van Staden en Carmen Gerber. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'