GEORGE NUUS - As jongman het John Nqweniso van 'n plaas in Burgersdorp na George getrek waar hy in November 1999 by die George-landbouskou begin werk het. Die destydse bestuurder, Jan Stander, het hom aangestel as grondbeheerbeapmte.
Nqweniso het op 26 Februarie sy 60ste verjaarsdag gevier. Omdat hy ook in sy 20ste jaar by die skou is, het die skouraadslede en vriende elkeen bygedra om 'n kontantgeskenk vir hom te gee. Daar is ook koek en tee saam geniet.
Nqweniso is in Molteno gebore en het in Burgersdorp grootgeword. Die afgelope twee dekades wat hy by die George-landbouskou betrokke is, het hy vier presidente oorleef. Hy is elke dag getrou op sy pos en word onder almal waardeer vir sy hardwerkendheid.
"Dit is geen geheim nie dat dit baie harde werk is om die skou aan die gang te hou. Daar is baie uitdagings wat hy al danksy sy deursettingsvermoë oorkom het," sê Christo Fourie, die skou se visepresident.
"Ons haal ons hoed af vir die man wat George-landbouskou help bou het en wat ook lang ure insit voor die skou. Vanjaar gaan geen verskil wees nie. John se bydrae en lojaliteit sal altyd waardeer en gerespekteer word."
In 2003 het hierdie foto van John Nqweniso in die George Herald verskyn waar hy besig was met terreinvoorbereiding. Het is die pa van drie kinders. Sy vrou, Christina woon in Aliwal-Noord.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'