GEORGE NUUS - Boere in die George-omgewing probeer so verantwoordelik moontlik optree om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te verhoed terwyl kosproduksie voortgaan, maar daar is groot uitdagings.
Landbou, as 'n essensiële en kritiese sektor, is uitgesluit van algehele inperking.
Nikwaflora, wat plukblomme op die plaas Terraniqua kweek, kon van verlede week af nie hul produk uitvoer nie weens die kansellasie van die meeste vlugte na die buiteland.
"Ons het wel 'n redelike plaaslike voetspoor, maar die plaaslike mark het op dieselfde tyd ineengetuimel. Ons is op 20-30% van ons kapasiteit, maar weens die isolasieafkondiging maak al ons markte plaaslik ook toe," sê Japie Steenkamp, bestuurder. "Vir ons gaan dit 'n baie lang en ingrypende nadraai hê."
Die boerdery is geskoei op gevestigde plante wat hy hoop om te onderhou totdat toestande gedraai het.
"Dit sal moeilik gaan want 'n mens het vaste oorhoofse kostes en debietorders, spuitstowwe en kunsmis wat betaal moet word. Ek hoop die regering se werkloosheidsversekeringsmaatreëls gaan deurkom sodat ons werknemers iets het om op terug te val. Byna 100 gesinne is afhanklik van die boerdery. Al kan jy die mense net 'n klein bietjie betaal, kan hulle nie daarvan lewe nie."
'Isolasie vir gewasboere nie moontlik nie'
Volgens Philip Terblanche, voorsitter van die Outeniqualand-boeregenootskap, staan die gewasboere voor die uitdaging dat ongeveer 95% van hul werkers tydens oestyd daagliks van omliggende gemeenskappe ingebring moet word, wat dit onmoontlik maak om te isoleer.
"Ons is nog onseker of ons permitte nodig sal hê vir die vervoer van die mense, maar ons doen wat ons kan om higiëniese maatreëls toe te pas. Ek het oor drie weke spanne wat moet inkom en ek probeer om elektroniese koorspenne in die hande te kry, maar dit blyk skaars te wees. Omdat ons nie kan isoleer nie, val ons in 'n risikogroep net soos medici."
Gaan sonder hulp boer
Tinie Dirks, 'n kleinhoenderboer naby George, het vinnig gespring om sy hoenders vroeër te laat slag om sy jongste besending te kon lewer voordat die isolasie inskop.
"My wins is minder omdat ek kleiner hoenders laat slag het. Ek moet nou ook taamlik uitlê om hoenderkos in grootmaat te koop vir die isolasieperiode, wat 'n slag is vir my kontantvloei." Sy werkers gaan tuis bly en hy sal die boerdery in hierdie tydperk op sy eie behartig.
Als moontlik gedoen vir voedselketting
By die megamelkboerdery van die Van Greunen-broers word alles moontlik gedoen om die voedselketting in plek en terselfdertyd mense veilig te hou, verseker Nelius van Greunen. Werksmense word tot hul huise en werkplek geïsoleer en net die essensiële take word verrig in 'n poging om die isolasiebeleid te ondersteun.
"Ons bessieoes is klaar. Dis nou plant- en onderhoudseisoen en hier skaal ons af tot die uiters noodsaaklike take om net die plante lewend te hou tot die volgende seisoen."
Probeer sover moontlik isoleer
'n Melkboer naby Groot-Brakrivier wat anoniem wil bly sê hulle probeer hulleself so ver moontlik isoleer, maar voer en kunsmis moet op die plaas afgelewer word en die Lancewood-melktrok moet die melk kom haal. Alle nodige maatreëls is in plek gestel om werkers te beskerm en voorsiening is gemaak vir moontlike kwarantyn en versorging as werkers siek sou word.
"Ons het ook van ons werkers op betaalde verlof gesit wat ons nie tans nodig het nie. Ons is 'n gemeenskap hier en my werkers is my bure, so ons moet mekaar help. Ek het vitamienaanvullings uitgedeel en grootmaatkos en medisyne gekoop sodat die werkers nie nodig het om van die plaas af te beweeg nie."
Sy het ook groentesaad uitgedeel en moedig werkers aan om hul eie vars kos te kweek. Vars plaaseiers is ook beskikbaar. "Ek dink ons moet almal verantwoordelik wees en prakties optree."
Lancewood het bevestig dat hulle operasioneel bly. Hulle gewoonlik streng higiëniese maatreëls is nog verder opgeskerp. 'n Gesondheidsbeampte gaan personeel se gesondheidstoestand daagliks na en spesiale vervoermaatreëls is ook vir hulle ingestel.
"Niks is belangriker as die veiligheid en gesondheid van ons personeel, klante en die boere wat ons op 'n konstante basis van rou melk voorsien nie. Ons het verskeie komitees gevorm wat die situasie noukeurig dophou sodat ons op gepaste wyse kan optree."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'