LANDBOU NUUS - "Landbou skuif Vorentoe" was vanjaar se tema van die Agri Wes-Kaap kongres wat onlangs te Goudini gehou is.
"Die omvang en gevolge van die onlangse arbeidsonrus het ons laat besef dat ons anders sal moet dink oor die pad vorentoe," het Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, tydens sy openingsrede gesê.
Swart het van 10 van belangrikste uitdagings vir landbou uitgelig. Dit sluit in verwarrende beleid oor landbouontwikkeling, soos onduidelikheid oor grondhervorming en die oordrag van waterregte. Grondhervorming is veral 'n bron van onsekerheid veral uit 'n beleggingsoogpunt, wat vererger word deur die heropening van die restitusie proses.
Landbou bevind hom ook in 'n beleidsvakuum met betrekking tot 'n strategiese plan vir die bedryf, het hy gesê.
Ander bekommernisse is die vervalle aard van landelike infrastruktuur, wat 'n belangrike bepalende faktor is van landelike en landbou-ontwikkeling.
Eweneens blyk wetgewende en prosedure-reëlings met betrekking tot rampbestuur onvoldoende te wees. Mededingende eise op natuurlike hulpbronne deur veral mynbou en landbou vereis duidelikheid in terme van beleid, veral met betrekking tot beskerming van hoë potensiaal landbougrond en beperkte waterbronne.
"Die land staar 'n sistemiese werkloosheidsprobleem in die gesig en die drastiese verhoging in die minimumloon gaan nie die doel dien van die skep van werksgeleenthede soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan nie," het hy gesê. Verbeterde opleidingsgeleenthede, behuising, regte van eienaars en werkers, en dienslewering sal aandag moet geniet.
Landbounavorsing skiet ook nog ver tekort weens 'n gebrek aan fondse.
Geadministreerde pryse van elektrisiteit, brandstof, water en minimumloon kortwiek die finansiële oorlewing van die sektor.
Suid-Afrikaners wat in die res van Afrika wil boer, kry ook nie die nodige ondersteuning van die staat deur middel van bilaterale handelsooreenkomste met ander lande nie.
Ten spyte van hierdie uitdagings, was die kongres in die lig van die tema "Landbou skuif Vorentoe" gerig op realistiese, maar veral positiewe en konstruktiewe denke binne die politieke-, ekonomiese- en bedryfs-omgewings.
Sprekers wat hierdie aspekte toegelig het, was prof. Willie Breytenbach, wat besin het oor verskeie faktore in die politieke omgewing 'n impak op die landbousektor het, soos die aanloop tot volgende jaar se verkiesing en die viering van die 1913 Wet op Naturelle Grond.
Nicholas Dicey het gekyk hoe georganiseerd die boeregemeenskap is om voedsel te produseer onder huidige omstandighede, en of die tema en strategie vir "landbou vir die verbruiker" in plek is.
Mike Schüssler het gepraat oor die ekonomiese realiteite wat nodig is om finansieel suksesvol in landbou te wees, watter effek landbou, asook die invoer van voedsel en vesel, op landbou het. Johannes Möller het afgesluit met 'n toekomsgerigte visie vir landbou.
Swart is herkies tot president, en Niel Joubert as visepresident van Agri Wes-Kaap.
ARTIKEL: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'