GEORGE NUUS - Verrigtinge by die 158ste George Landbouskou het reeds afgeskop.
Gisteraand het George se burgemeester, Melvin Naik, die Suid-Afrikaanse Jerseykampioenskappe geopen.
Dit is die eerste keer dat dié kampioenskap hier gehou word. Die organiseerders met Nico van Rensburg aan die stuur het baie moeite gedoen en 'n spogvenue op die skouterrein opgerig vir dié groot geleentheid. Die kampioenskap duur vandag voort.
Benewens die talle diereafdelings waar boere en hul diere hul beste voetjie gaan voorsit, is die skouterrein propvol uitstallings, kosstalletjies, kompetisies en 'n heerlike vermaakprogram vir die hele gesin.
Kunstenaars wat die vermaaktent vanjaar aan die brand gaan sing, is Kurt Darren, die Campbell-broers, Rooies, Piet Pompies, Michael Lindt, Desmond Wells en Donkiekar Boereorkes. Donderdagaand is Moses Williams en sy groep met hul vertoning, Lag in Afrikaans, op die verhoog om die lagspiere te prikkel.
Die Graskoue Trappers, bekende rieldansers van Wuppertal, is weer hier en gaan dans dat die stof staan.
'n Opwindende nuutjie by die skou is 'n skattejagkompetisie in samewerking met Georgiete Staan Saam. Sentrale punte op die skougrond gaan gemerk word en enige persoon kan deelneem aan die jag deur 'n selfoontoep af te laai. Besoek die stalletjie van Georgiete Staan Saam waar hulle jou sal help om in te skryf. Daar is baie groot pryse om te wen.
Nico van Rensburg soen sy koei, Mella, wat aangewys is as die Suid-Afrikaanse Jersey Jug-kampioen. Foto: Alida de Beer
Die toegangsfooi vir vandag, Woensdag 29 Augustus, is R40 vir volwassenes en R20 vir kinders, Donderdag is dit R50 vir volwassenes en R20 vir kinders, en Vrydag en Saterdag is dit R60 en R20.
Die 11-Jarige Jaco van Deventer van Doornvlei Jerseys se koei Doornvlei Iatola Starter is aangewys as die Kampioen Goue Koei in die Suid-Afrikaanse Jerseykampioenskap. Jaco se Pa, Pieter van Deventer se koei, Doornvlei T-bone is aangewys as die Reserwe Kampioen. Iatola Starter en T-Bone Starter is ma en dogter. Foto: Manie van der Hoven
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'