GEORGE NUUS - Wonder jy ooit hoekom sekere areas meer oorstromings en rioolstortings as ander het?
In meeste gevalle kan die probleem direk verbind word met wat in die drein afgaan.
Verkeerde goed
Verkeerde goed wat in toilette afgespoel of in mangate en stormwaterafvoerpype gegooi word, is die grootste oorsaak van riool wat oorloop, verstopte dreine en oorstromings in sekere areas.
Probleemitems sluit in: kosverpakkings, koeldrankbottels, babadoeke, sanitêre produkte, koerantpapier wat in toilette afgespoel word en groot items soos dooie diere en meubels in mangate en afvoerpype.
Klein gat, groot probleem
Dinge verdwyn nie net omdat jy dit in die toilet afgespoel het of in ’n drein gegooi het nie!
Inteendeel, verkeerde items in dreine sal waarskynlik ’n baie groter, meer stinkerige probleem word as die ding wat jy wou weggooi.
Dink daaroor: ’n Sanitêre doekie lyk na ’n klein dingetjie, maar dit kan ’n groot rioolstorting in jou agterplaas veroorsaak as dit selfs net een pyp verstop.
Pype gaan oral
Ondergrondse pype verbind jou gemeenskap onder die grond op dieselfde manier as wat strate bo die grond aan mekaar verbind is.
Dit beteken vuilgoed wat in ’n drein ver van jou huis in ’n gat gedruk is kan steeds probleme by jou eie huis veroorsaak, of waar jy inkopies doen, werk of stap. Die hele gemeenskap word bevoordeel wanneer pype oral skoongehou word.
Vullis verstop die sisteem
Niks solied is veronderstel om by ’n dreinpyp of toilet af te gaan nie, maak nie saak hoe groot of klein dit is nie. Groot goed sal maklik in ’n pyp vassteek, maar ’n hele klomp klein goedjies sal uiteindelik saamdrom en ook die drein verstop.
Ernstige gevolge
Verstopte stormwaterdreine kan oorstromings veroorsaak wat huise en eiendom kan beskadig en kan gevaarlik wees vir verdrinking.
Verstopte rioolpype sal tot rioolstortings lei wat stink en ’n gesondheidsprobleem kan wees.
Om dreinpype skoon te maak is duur en kos die munisipaliteit geld en mannekrag wat vir ander gemeenskapsprojekte gebruik kon word.
Indien jy gevang word dat jy rommel stort of rondgooi sal jy ’n boete kry. Indien jy nie die boete kan betaal nie kan jy tronk toe gaan.
Moenie dit doen nie!
Moenie jou rommel in die gate langs die pad (stormwaterpype) gooi nie.
Moenie babadoeke, sanitêre doekies, koerantpapier, lappe, vetterige kos of vet in die toilet af spoel nie.
Moenie takke, motorbande, klippe, dooie diere en vuil lappe in mangate en dreine gooi nie.
Jy kan help
- Maak seker die area voor stormwatergate in die pad is skoon van blare en gemors.
- Moenie rommel strooi nie. Hou kosverpakkings, pastiekbottels, sigaretstompies en ander afval by jou tot jy by ’n vullisdrom kom of tot jy by die huis kom waar jy dit in die regte plek kan weggooi.
- Hou jou gemors by die huis in ’n swart sak en plaas dit op jou sypaadjie op vullisverwyderingsdag. Jy kan elke week tot sewe swart sakke per huishouding uitsit.
- Plaas vuil babadoeke en gebruikte sanitêre produkte in plastiek inkopiesakke en knoop dit toe voordat jy dit in ’n swart sak weggooi.
- Die toilet is nie ’n vullisblik nie. Gebruik dit slegs vir liggaamlike funksies en toiletpapier. Die res moet in ’n swart sak, munisipale stortbak (skip) of na ’n stortingsterrein gaan.
- Gooi bourommel, voertuigbande en ander groot goed by die munisipale stortingsterrein weg of in ’n stortbak wat in u gebied uitgesit is.
- Indien daar ’n herwinningsprogram in u area is, skei jou herwinbare items en gooi dit in die blou sak wat verskaf word. Plaas die blou sak saam met jou swart sakke uit.
- Kyk uit vir enigiemand wat vir kwaadgeld rondloop en probeer om dreindeksels oop te maak - jaag hulle weg of meld hulle aan.
Rapporteer
- Verstopte riool en stormwaterpype by Siviele Ingenieursdienste 044 801 9262/66 of 044 801 6300 (n/u).
- Mense wat groot items in dreinpype gooi by Wetstoepassing 044 801 6350 of 044 801 6300 (n/u).
- Vuilgoed wat onwettig gestort is en verwyder moet word by Omgewingsdienste 044 802 2900 of 044 801 6300 (n/u).
- Dooie diere vir verwydering by Tuinroete DBV: 044 878 1990
- Dooie diere op die N2 vir verwydering by Sanral: 082 553 4878
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’