GEORGE NUUS - 'n Onderbroek met 'n trekker, 'n bottel wyn met die boer se gesig en 'n briefie met warm beloftes het 'n plaaslike haarstilis, Hennie Swanepoel, 'n plek onder die top 10 finaliste vir die Boer soek 'n vrou-televisiereeks besorg. Hy was een van meer as 200 hoopvolles wat 'n geskenkpakkie vir die maatsoekende boer gestuur het, en syne was een van 10 wat uiteindelik as finaliste gekies is.
Die boer in Swanepoel se visier, Rudi Delport (47), 'n wildsboer van Brits, is die tweede gay boer op die program, en is ywerig op soek na liefde.
Die reeks is tans in seisoen 17 en is steeds baie gewild. "As 'n trotse Georgiet is ek opreg dankbaar vir die geleentheid, die kosbare herinneringe en die vriendskappe wat vir altyd in my hart sal bly.
Ek sal hierdie ervaring vir altyd koester," skryf Swanepoel in 'n Facebook-inskrywing nadat hy in die vierde episode uitgestem is.
George Herald het met hom by Mood, die salon in Denneoord waar hy werk, gaan gesels om uit te vind hoe hy die hele proses ervaar het.
Swanepoel is uitgestem knap voor Delport drie kandidate gekies het om saam na sy plaas te neem.
"Ek het minstens 'n kans gehad om vyf minute saam met my boer te spandeer," vertel hy.
"Ons was vyf wat in die eerste ronde uitgestem is. Hierdie is nie iets wat ek ooit sou doen nie, maar een van my kliënte het aangehou dat ek moet probeer.
"Ek het nie gedink ek staan 'n kans nie, maar ek het dit so geniet om die pakkie op te maak. Ek het eintlik heeltemal daarvan vergeet," sê Hennie.
Die geskenkpakkie wat die boer beïndruk het.
"En toe bel kykNET my die een Vrydag-aand, toe dink ek: O f*k. Ek moes toe hoor die boer wil my graag ontmoet, en dat ek een van die 10 finaliste is."
Swanepoel is toe na die Doolhof-wynlandgoed in Wellington waar die verfilming plaasgevind het. Hy het groot vriende geraak met 'n deelnemer met die naam van Paoula Ives, wat 'n finalis is vir 'n ander boer - ook 'n Rudi.
Die program is elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te siene.
Doolhof-wynlandgoed in Wellington waar die verfilming plaasgevind het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’