Dit was 'n geleentheid met top gaskunstenaars, `n lewensveranderende spreker, pragtige uitstallings, groot bederf geskenksakke, heerlike saamkuier tussen vriendinne en `n puik middagete.
Anne-Marie Peyper, `n inspirerende leefstyl konsultant, wat keel en borskanker oorleef het, het op humoristiese wyse die angel uit klerekasbeplanning gehaal. Volgens haar pak jy alles wat jy het in twee seisoene nie gedra het nie in die BB Boutique (Black Bag) en skenk dit aan iemand wat dit nodig het. Met sewe basiese kledingstukke wat jy kan meng en pas, waarvan jy hou omdat dit jou lyf en jou lewenstyl pas kan jy baie vermag.
Hartsake
Shéri Brynard, die bekende motiveringspreker het met haar nr. 1 voetjies `n ongelooflike groot voetspoor in elke dame se hart getrap. Woorde ontbreek om reg te laat geskied aan die Downsindroomlyer, die ambassadeur vir die Downsindroomlyers Internasionaal, die wenner van die Shoprite, Checkers Vrou van die Jaar- kompetisie (Jeugwerkers kategorie).
Sy is `n uiters begaafde spreker en het die dames laat skaterlag om net die volgende oomblik weer na hulle sakdoeke te laat gryp.
Shéri is 'n trotse Downsie en dis wat elke dame moet wees - aanvaar jouself, wees trots op wie jy is, en hou op om kosbare energie te vermors deur jouself te bejammer. Sy het 'n beroep op die dames gedoen om ook `n deernisvolle hand na ander in nood uit te steek, en `n verskil in lewens te maak. Sy straal geloof, liefde en innerlike vrede uit en dis wat sy elkeen toewens.
Dit was `n sielverrykende ervaring om na Shéri met haar ongelooflike deursettingsvermoë te kon luister.
Die gaskunstenaar was Rickus Nel wat 13 instrumente kan bespeel. Rickus het met sy diep fluweelstem die dames bekoor met liedjies van sy CD Sak en Pak wat die week goud gegaan het. Hy het ook van die dames se versoeke gesing en het `n lekker humoristiese verhoogspersoonlikheid. Sy klankman, Henré, het die dames vermaak deur bekende sangers na te boots.
Ons plaaslike klank-ghoeroe Tokkie Nel en sy groep het Abba-liedjies gesing. Dit was wonderlik om die dag af te sluit met die oorhandiging van skenkings aan Mariette Jacobs van die Downsindroom skool en Elna Pretorius van die Libere-projek.

Vroue was op hulle voete om te dans op die uitmuntende en vrolike liedjies van Ricus Nel.

Cheri Brynard was die begaafde spreker wat vroue met haar lewensverhaal geboei het.

Ricus Nel (regs) en sy klankman Henré Masser het 400 vroue laat skater van die lag.

Almal wat betrokke was by die Dames Aktueel se Bolton Vrouedag. Agter: Hermien Carstens, Rickus Nel, Anette Warnich, Magdaleen Smook, Maureen Faul, Anne-Marie Peyper, Suzette Brynard en Annetjie Swart. Voor: Annelie Barnard, Louie Meyer, Sheri Brynardt en Liesbet Herselman.
ARTIKEL: LOUIE MEYER