OUDTSHOORN VERMAAK NUUS - So sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. Volgens Theart het die fees oor die afgelope twee dekades ’n reputasie vir uitsonderlike kunsuitstallings gebou en is hulle vanjaar aangemoedig om ’n virtuele sprong te maak.
“Die feit dat ons vanjaar se KKNK weens die Covid-19-pandemie moes kanselleer is steeds ’n groot teleurstelling, maar ons sien uit na hierdie nuwe en opwindende digitale ervaring”, sê hy.
“Hierdie inisiatief skep ’n belangrike platform vir visuele kunstenaars om hulle werk te verkoop en sodoende ’n inkomste te genereer met werk geskep vir vanjaar se KKNK”, sê Theart.
Dineke van der Walt, die KKNK se nuwe visuele kunskurator, het vanjaar se program met die tema Plat op die aarde saamgestel. Volgens Van der Walt kan kunswerke direk in die Virtuele Galery besigtig en gekoop word.
“Feesgangers, kunsliefhebbers en -versamelaars het nou die geleentheid om deur die digitale gange van ons visuele kunsprogram te stap en die prag van 11 uitstallings in die gemak van hulle huise te sien. Die aanbod sluit werke van 45 kunstenaars met meer as 200 werke in”, sê sy.
Barbara Wildenboer in die 3D Virtuele Galery 2
Volgens Van der Walt kan opwindende uitstallings van talentvolle jong kurators gesien word, waaronder Amé Bell, Tammy Langtry, Tlotlo Lobelo en Suen Muller.
“Kunstenaars sluit in Usha Seejarim, Lisl Barry, Manyaku Mashilo, Strijdom van der Merwe, Heidi Fourie, Linda Ballen, Zhi Zulu, Olivia Botha, Ronél de Jager, JP Hanekom, Keneilwe Mokoena, Maryna Cotton, Sarel van Staden, Owen Claassen, Vincent Osemwegie en Nanette Ranger – asook ’n saamgestelde uitstalling van Jenna Burchell, Jaco van Schalkwyk en Wayne Matthews”, vertel sy.
Kunswerke van drie jong kunstenaars uit Oudtshoorn word ook deur die Absa Galery aangebied. Hulle is Colin Meyer, Zietske Saaiman en Earlyn Cloud. “ ’n Hoogtepunt van dié projek is natuurlik die ongelooflike retrospektiewe uitstalling van vanjaar se feeskunstenaar, Barbara Wildenboer”, sluit Van der Walt af.
Theart sê verder hierdie is die eerste van verskeie uitstallings. “Ons glo dat hierdie ’n KKNK-instelling gaan word, wat nie net waarde vir ons ondersteuners toevoeg nie, maar ook meer geleenthede vir die visuele kunste in die toekoms skep.
Die eerste volskaalse Virtuele Galery van die KKNK open op Woensdag 24 Junie sy deure aanlyn by www.kknk.co.za”, sluit Theart af.
Ronél de Jager, In a quiet corner of the room, Exhibition Vanishing Act, Curator Suen Muller
Maryna Cotton and Sarel van Staden, MeerKat, Exhibition Karoo Stories
Sbongiseni Khulu, The Creation of Famine, Exhibition Another Kind of Blue, Curator Amé Bell, David Krut Projects
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'