GEORGE NUUS - Die talentvolle skilder Marnitz Steyn (40) het die geleentheid van 'n leeftyd ontvang met die toekenning van 'n driejaarbeurs aan hom vir kunsstudie aan die Gallaudet-universiteit vir dowes in Washington DC.
Vir Marnitz, 'n kunstenaar wat hoë ideale koester vir sy loopbaan, is dit 'n ongelooflike stap vorentoe.
"Dit sal ’n droom wees wat waar word as ek ook eendag ’n lektor daar kan word as ek myself waardig bewys. Ek is baie opgewonde," het hy aan George Herald gesê tydens 'n besoek aan sy ateljee in 'n rustige deel van Denneoord. Sy meisie, Lieze van Staden, was daar om te help interpreteer.
Marnitz het groter hoogtes bereik ná sy uitstalling by die New York Expo in 2018. Hy sê die kuns by die expo was van uitstekende standaard en het hom geïnspireer om nog harder te werk. Hy wou internasionaal meeding en het besluit om aansoek te doen by die universiteit.
Sy beskermheer wat hom reeds jare lank ondersteun en 'n groot versameling van sy kuns besit, het spesiaal mense aan die werk gesit om sy CV na Gallaudet te stuur, en Marnitz verras met die groot eer van die beursaanbieding.
Marnitz is oorspronklik van Pretoria, maar woon al 'n klompie jare in die Wes-Kaap. Tydens sy kinderjare het die gesin hier vakansie gehou en die asemrowende Kaapse landskappe het hom gefassineer en bly steeds vir hom 'n groot inspirasie. Hy het onder meer in Swellendam, Plettenbergbaai, Knysna, Groot-Brak en Wilderness gewoon voordat hy hom drie jaar gelede in George gevestig het.
Marnitz en Lieze verstaan mekaar op ’n baie spesiale manier. Hulle het in Januarie vanjaar as vriende ontmoet en het onmiddellik gekliek. "Ons kon nie ophou gesels nie en het van die middag af tot laat die aand gekuier," vertel Lieze. Marnitz was verbaas dat hoewel Lieze nie gebaretaal geken het nie, sy hom uit die staanspoor kon verstaan.
Sy woon nie ver van hom af nie en die twee skilder deesdae saam in sy ateljee. Sy is 'n kunstenaar in eie reg wat aan die Nelson Mandela Universiteit en Andrew Owen School of Art studeer het met illustrasie en portretstudie as hoofvakke. Daarna het sy 'n kort vakleerlingskap onder 'n brons beeldhouer in Durban voltooi om meer in bronswerk te werk. "Ek wou nog altyd die storiewêreld in my kop lewe gee, en ek hoop om dit te doen deur bronswerk."
Marnitz en Lieze in sy ateljee.
Sy praat met groot bewondering van Marnitz se skildertegniek. "Hy het 'n los tegniek, 'n vorm van impressionisme en 'n tipiese kenmerk van meesterskap wat nie enigeen kan baasraak nie. As dowe moes Marnitz baie struikelblokke oorkom. In Suid-Afrika is daar steeds bevooroordeeldheid teenoor die dowe gemeenskap, maar Marnitz het geweier om dit te aanvaar. Hy weet wat hy wil hê en hy gaan daarvoor. Hy het van kleins af vir sy ma gesê hy wil sy merk maak in die horende wêreld, en geweet dat hy eendag die wêreld sal sien."
Uiteindelik wil Marnitz sy lewensreis met al die uitdagings wat hy as 'n dowe moes oorkom in 'n outobiografie deel waarvan hy ook 'n fliek sal wil maak. Daardeur wil hy ander dowes moed gee en terselfdertyd die publiek inlig oor die uitdagings van doof wees.
As kind het hy spottery en boeliegedrag verduur wat tot 'n lae selfbeeld en depressie gelei het. Kommunikasie was ook in sy eie gesin vir hom moeilik.
Deur sy lewe was sy ma, Mara, sy grootste ondersteuner en promotor, en het sy talente aangemoedig van ’n vroeë ouderdom.
Een van die palette waarop Marnitz werk.
Marnitz was vyf jaar oud toe sy talent begin deurskemer het en by die Transoranje Skool vir Dowes in Pretoria waar hy skoolgegaan het, het sy buitengewone gawe erkenning begin kry.
Hy was in graad 8 reeds 'n student aan die Jacquey Theron Art School waar hy privaat tutorskap van 2001 tot 2007 ontvang het.
As deel van Gallaudet se beursvereistes moet Marnitz sy Engels opknap, en omdat Engelsgebaretaal in Suid-Afrika anders is as Engels in Amerika, moet hy Amerikaanse Engelsgebaretaal (ASL) baasraak terwyl hy onlangs Suid-Afrikaanse Engelsgebaretaal (SASL) begin aanleer het.
Lieze sê, "Omdat ek self tuisonderrig in die kurrikulum van 'n Amerikaanse privaat skool gehad het, kan ek hom lekker help," en sy lag oor haar rolle as Marnitz se juffrou, meisie en kunspromotor.
Hy is 'n produktiewe kunstenaar wat meestal vanuit sy eie inspirasie werk. Hy neem sy eie foto's soos hy die wêreld verken. Sedert hy op 17-jarige ouderdom sy eerste solo-uitstalling in Aluvi House in Pretoria gehou het, het hy al meer as 7 000 werke in sy loopbaan verkoop.
Marnitz het ook al verskeie kompetisies gewen, onder andere die Wits Internasionale Kompetisie vir Dowe Studies, asook pryse by die South Cape Association for Visual Arts (Scava) en die Wilderness Arts Festival. Dat daar nuwe en opwindende hoogtes in sy loopbaan gaan volg, is vir seker.
Mense kan sy ateljee op afspraak (per e-pos marnitzsteyn@gmail.com) op Dinsdae en Donderdae besoek.
Marnitz het al verskeie kompetisies gewen. Hier is hy met die toekenning as wenner by die Wits Internasionale Kompetisie vir Dowe Studies. Foto verskaf
Marnitz en Lieze met van sy werke in die agtergrond.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’