Vir die gesoute regisseur Johnny Breedt, wat tans op Prins Albert woon, was die rolprent voorwaar 'n groot uitdaging. Die riller wys die skadukant van die mens.
"Ek het seker al 'n stuk of 60 vollengte rolprente, insluitende TV-reekse gemaak," het Breedt vertel tydens 'n telefoniese gesprek met die George Herald.
Die rolprent is op Abel se ontwaking gegrond, die eerste in die Abel-trilogie wat geskryf is deur Chris Karsten, die voormalige koerantman wat deesdae in Kanada woon. Toe hy Chris se boek lees het hy dadelik geweet dat dit geskik is vir 'n draaiboek.
"Die boek beskryf die tonele uiters goed, (dis filmies geskryf) en dit het daardeur baie hulp gebied om atmosfeer te skep tydens die tonele waarvan die meeste in Kuilsrivier en op 'n kleinhoewe naby Durbanville verfilm is. Gys de Villiers het in 'n onderhoud met Vrouekeur gebieg dat hy heelwat empatie gehad het met die karakter. Hy het baie oor reeksmoordenaars gelees en dit het hom gehelp om in die "kop van die monster" te klim. As een van vyf kinders, het Gys taamlik rof grootgeword, rusies is soms met 'n baksteen of enigiets wat naby genoeg was, uitgesorteer.
Daar word nog aan die rolprent geskaaf, maar hy hoop om binnekort die eindproduk aan te bied vir oorweging in die Silwerskerm-fees wat in Kaapstad gehou gaan word, het Breedt verduidelik.
"Ek hoop hulle aanvaar die rolprent. Ons is 98% klaar daarmee," het Breedt, wat 'n mede-eienaar van die pragtig, gerestoureerde The Showroom Teater in Prins Albert is, gesê.

Johnny Breedt rolprentregisseur van Prins Albert, gaan sy rolprent, 'n riller, gebaseer op Chris Karsten se boek inskryf vir die Silwerskermfees wat in Kaapstad gehou gaan word. Breedt het 60 vollengte rolprente en TV-reekse agter die blad. Die permière van Die ontwaking gaan in sy eie teater, The Showroom in Prins Albert gehou word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'