Die blyspel is gebaseer op George se bekende prediker-sanger Koos van der Merwe se boek,'Die dorp potensiaal'.
Dit vind plaas vanaf 27 tot 30 Augustus en sal die eerste van vele by Eden Place-teater wees. Dis 'n 1 200-sitplek-teater en belowe om die gehoor te vermaak en om hulle op 'n ongelooflike avontuur te neem.
Quintin verduidelik: "Elke mens word met ongekende potensiaal gebore. Tog kies die meeste mense om die maklike, middelmatige lewe te leef en ontdek daarom nooit wat hulle in werklikheid kan wees nie. Hierdie kragtige allegorie vertel van 'n man wat in sy dorp bekend staan as 'Die vreemde een', want in hulle grys, eentonige bestaan kies hy om sy lewe met helder kleure op te kikker.
"Kom reis saam met hierdie karakters wat in hulle eie lewe na hulle Godgegewe potensiaal soek. Saam met 'Die vreemde een' sal hulle oor die 'berg moontlikheid' reis om 'die draak middelmatigheid' te vernietig."
Soos genoem is Koos se boek die inspirasie vir die produksie. Oudisies is reeds in April gehou en 25 van George en omgewing se bekende dansers en akteurs is gekies en reeds maande aan die repeteer.
Potensiaal is geskryf deur Quintin, wat blyspele soos Snow White – the Pantomime, Cabaret, West-side Story, 42nd Streeten Cinderella – the Pantomime agter sy naam het, en die musiek is geskryf deur onder meer Jacques Bos, Elrika Steyn en Hanno Enslin.
Deur hierdie projek word 'n hele aantal kunsvorms geïntegreer om hierdie gawes en talente te vier.
Sedert die ingebruikneming van die Eden Place-teater in 2013 is daar bykans elke jaar die geleentheid om die fasiliteit se ruim bedieningspasie en verhoog te benut vir indrukwekkende dekor, ritmiese choreografie, komiese spel en asemrowende tegniese toertjies.
"Ons hoop om Potensiaal te neem na volgende jaar se KKNK en die Woordfees. Ons mik ook om gehore van 500 vir elke aand te lok," sê Quintin.
Kaartjies is reeds beskikbaar by Eden Place (N2 tussen Wildernis en George) of bel 044 889 0130.
Akteurs en sangers wat optree in Potensiaal - die Musical vanaf 27 tot 30 Augustus, tydens 'n repetisie in die Eden Place-teater.

Quintin bring Potensiaal - die musical op die planke by die Eden Place-teater vanaf 27 tot 30 Augustus.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'