GEORGE VERMAAK NUUS - Nicklen Gelderbloem, gr. 11-leerder van Hoërskool Outeniqua, het die afgelope naweek 'n huiskonsert aangebied waar hy 'n program van pragtige kitaarmusiek uitgevoer het.
Die geleentheid is deur sy onderwyser, me. Olga Schoeman, 'n bekende harp en klassieke kitaar spesialis in die Tuinroete-omgewing, aangebied.
Die program het bestaan uit 'n verskeidenheid werke uit die skatkis van klassieke repertorium wat meesterlik deur die jong Nicklen vertolk is.
Die gehoor is verder trakteer op jazz duet-items saam met die gaskunstenaar, saksofoonspeler Kerwin Albertus.
Die sestienjarige Nicklen is nederig oor sy besondere talent en skryf sy liefde vir musiek toe aan sy familie en die blootstelling wat sy grootouers hom as jong seun gegee het.
Van links is gaskunstenaar Kerwin Albertus, ster van die aand Nicklen Gelderbloem en Nicklen se kitaarafrigter, Olga Schoeman.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'