GEORGE NUUS - Die gesellige Bush Lapa-venue is die komende vakansie dié plek om te wees vir 'n musiekervaring uit die boonste rakke met van die land se topkunstenaars op die verhoog.
'n Konsertreeks met meer as 25 van die land se grootste sterre word van 14 tot 31 Desember opgedis deur KD Fourie, skepper van die gewilde jaarlikse Musiekfees wat verlede jaar 'n dekade gevier het.
Die heerlike venue waar die fees aangebied word, is deel van die sukses van hierdie jaarlikse musiekgebeurtenis.
Die Bush Lapa is 'n suksesverhaal wat begin het met 'n 90-sitplek boskroegie waar aanvanklik slegs vriende bymekaargekom het. KD het daarin geslaag om van die land se room van kunstenaars hierheen te lok - en aanhangers het met die voete gestem. Die fees het met rasse skrede gegroei en die Bush Lapa moes uitbrei en bied vandag 500 sitplekke, voorwaar 'n plek waarop Georgiete trots kan wees.
"Dit is een van die topvyf geliefkoosde venues wat die land se voorste kunstenaars baie graag op hulle toerlysie sit," sê KD.
Vanjaar se bonanza
Vanjaar kan musiekliefhebbers weereens 'n bonanza verwag met die volgende kunstenaars op die program: Radio Raps (14 Desember), Prime Circle (19 Desember), Bok van Blerk (21 Desember), Matthew Mole (26 Desember), Bobby van Jaarsveld (27 Desember), Jay en Karlien van Jaarsveld (29 Desember), en Jakkie Louw en Pieter Smit by die Oujaarsaandpartytjie op 31 Desember.
"Kaartjies is reeds beskikbaar en ons gee ons plaaslike inwoners kans om nou te koop voordat vakansiegangers alles opraap. Radio Raps se vertoning is reeds uitverkoop," sê KD.
Daar is baie veilige parkering. Die Bush Lapa is 'n gesellige, familievriendelike venue waar ouma en oupa en die kinders welkom is.
Smullekker etes is te koop en gaste kuier gesellig saam om tafels naby aan die kunstenaars op die verhoog en met 'n groot vuur wat in die agtergrond brand. Smaaklike etes voorberei deur die nimlike Chef Noddy en span is te koop. Die tweede venue van Herold's Bay Resort, Down to Earth-restaurant, is vanjaar daagliks vanaf 17 Desember oop vir ontbyt, middagete en aandete met tonne vermaak vir kinders, lewendige musiek sowel as jenewer-, wyn- en boetiekbier-proeë tussen 12:00 en 15:00.
Kaartjies is maklik bekombaar deur www.webtickets.co.za, by die Herold's Bay Resort se ontvangs self, by enige Pick n Pay-tak in Hartenbos, Mosselbaai en George met 'n Money Market-toonbank, en by die Bush Lapa se kaartjies-kiosk by die Eden Meander Lifestyle Centre.
Kontak Herold's Bay Resort by 044 851 0113 of stuur jou navrae aan admin@heroldsbayresort.co.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'