GEORGE NUUS - Klikkerland, 'n plaaslike groep wat diep spore trap in die wêreld van kindervermaak, is vir die derde agtereenvolgende jaar benoem vir Ghoemas in twee kategorieë naamlik, Beste Kinderalbum en Suid-Afrika se gunsteling groep.
Aanhangers het nog 'n week oor om vir Klikkerland te stem as hul gunsteling groep. Mededingers in die kategorie vir die beste kinderalbum is die groepe Buster en Baster en Clarice en die Reënboogkids.
Carina Beukes, medeskepper en akteur van Klikkerland het gesê die nominasies is goud werd.
"Dit is goed om te weet die industrie heg waarde aan ons produk, en dat ons 'n impak maak al is ons verder weg, hier aan die Tuinroete. Ons het nog nooit gewen nie, dit sal natuurlik fantasties wees."
Om te stem, stuur 'n SMS-boodskap "PDG8" na 39952. Jy kan tot 28 Maart 2019 om middernag soveel keer stem as wat jy wil. Elke SMS-boodskap kos R2.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'