OUDTSHOORN NUUS - Hy sien uit na 'n opwindende 25ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees en wil vanjaar baie meer van Oudtshoorn se inwoners betrokke sien. Só het Crispin Sonn, direksievoorsitter van Kunste Onbeperk, Vrydag tydens die algemene jaarvergadering van die maatskappy gesê.
Kunste Onbeperk bied die KKNK, Klein Karoo Klassique en Kunste Onbeperk Teksmark aan.
Hoewel KKNK 2018 se inkomste teenoor die vorige jaar afgeneem het, het dit ten spyte van al die uitdagings vir die vierde agtereenvolgende jaar ‘n klein surplus gerealiseer, het Sonn in sy jaaroorsig gesê.
Volgens Sonn bestaan daar geweldige kompetisie om borge vir feeste te vind.
“Dit gaan taai daar buite en dit kos intense onderhandeling.”
Hy het beklemtoon dat die KKNK steeds die maatskappy se grootste bron van inkomste is en ook aangekondig dat Absa nog vir die volgende drie jaar die hoofborg van die fees sal wees.
Tydens verlede jaar het KKNK R56 miljoen tot die Oudtshoorn ekonomie bygedra en tussen R160 miljoen en R178 miljoen tot die van die Wes-Kaap, aldus ‘n studie deur die departement van ekonomie en ekonomiese geskiedenis van die Rhodes Universiteit.
“Ons probeer ook om meer Engelssprekendes by die KKNK te kry asook feesgangers vanuit die Oos-Kaap.
Volgens Sonn kom die meeste feesgangers uit die Wes-Kaap met 48% wat uit families bestaan. 70 % van die feesgangers koop feeskaartjies terwyl 70% uitsluitlik kom vir die vermaak.
Volgens Sonn word daar baie gekla oor die KKNK se nalatenskap en daarom is hy trots om aan te kondig dat daar gevorderde besprekings en planne is om in samewerking met die Oudtshoorn-munisipaliteit en borge soos Absa die droom van ‘n Kunste Akademie wat dwarsdeur die jaar verskeie kunste-programme in die Toekomsrus-gemeenskapsaal aangebied sal word. "Almal sal betrek word, maar daar sal ‘n sterk fokus op die jeug wees."
Hy is van mening dat dit 'n fantastiese plek is om by te begin en daarom een van sy prioriteite.
Een van die stigterlede van die fees, Rosie Schoeman, het haar waardering en dank uitgespreek teenoor die jonger geslag vir wat hulle doen om die fees te laat voortleef.
“Dit is wonderlik hoeveel goed julle regkry. Dankie vir wat julle doen,” het sy gesê.
Sonn het ook aangekondig dat Hugo Theart as Artistieke Direkteur van Kunste Onbeperk aangestel is.
“Die direksie wil met die oog op die toekoms Kunste Onbeperk as ‘n kreatiewe maatskappy lei en het daarom besluit om weg te beweeg van die titel uitvoerende hoof. Ons sien uit na die toekoms saam met Theart en dat sy kreatiwiteit en leiding die maatskappy se strategiese doelwitte in die toekoms verder sal laat groei. As direksie het ons ook groot waardering vir die rol wat Kunste Onbeperk se personeel, met Hugo se leiding, die afgelope paar maande gespeel het. Dit verseker dat die maatskappy by sy strategiese plan hou.”
Sonn het ook aangekondig dat Linda Marques, wat reeds 18 jaar by die KKNK en Kunste Onbeperk werk, die posisie van algemene bestuurder inneem terwyl Dryland Event Management, ‘n plaaslike maatskappy, as logistieke vennoot aangestel is met Bernard le Roux, tot onlangs bedryfshoof, as verteenwoordiger.
‘n Plaaslike sakeman, Allie Killian, het tydens die vergadering gekla oor ‘n tydelike restaurant wat tydens verlede jaar se Klein Karoo Klassique in die saal van die NG Kerk bedryf is en plaaslike restaurante erg geknou het.
Sonn het ‘n ope uitnodiging gerig aan sakemanne en restauranteienaars van Oudtshoorn om met nuwe idees na vore te kom.
Sonn het die versekering gegee dat Kunste Onbeperk, ten spyte van die huidige ekonomiese uitdagings, gesond is en hard agter die skerms gewerk word om die welstand van die maatskappy vir die volgende dekades te verseker.
Die 25 ste KKNK word van Donderdag 21 Maart tot Woensdag 27 Maart aangebied.
Die feesprogram is by www.kknk.co.za beskikbaar en kaartjies kan by Computicket, House & Home of Shoprite/Checkers gekoop word.
Verblyfbesprekings kan deur die verblyfkantoor gedoen word by 044 203 8600.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'