GEORGE NUUS - Die verwerking van Khumba die SA animasie film vanaf silwerskerm na verhoog was 'n reusesukses te oordeel aan die goeie bywoning oor die pas afgelope seisoen in George se pragtig gerestoureerde Oakhurst Insurance George Arts Theatre.
Meeste van die vertonings was heeltemal uitverkoop.
Die sukses was te danke aan die toewyding van die personeel, bestuur van die teater en Triggerfish onder leiding van Carina Beukes tesame met Bronwyn Stammer en Madie Calitz.
Die gehoor, wat oumas en jong kinders ingesluit het, was verstom oor die wonderlike kostuums gemaak deur Pieter Beukes van Creative Castle Designs en die unieke beligting.
Die hoogseisoenvertonings (14 tot 17 Desember) was almal uitverkoop.
"Omdat die teater sterk voel oor die bevordering van die kunste was daar ook twee volgepakte gemeenskapsvertonings," vertel Carina Beukes.
Khumba on Stage is soos genoem gebaseer op die animasie rolprent gemaak deur die SA filmmaatskappy, Triggerfish.
Die storie gaan oor Khumba, die half-gestreepte Zebra, wat op 'n reis deur die Karoo gaan om sy strepe te soek, nadat sy bygelowige trop hom die skuld gegee het vir die droogte.
Gedurende sy reis ontmoet hy verskeie karakters soos 'n warmhartige wildebees, 'n flambojante volstruis en bloeddorstige luiperd.
Die film is in 2013 in Engels en Afrikaans, 2D en 3D vrygestel.
Die meerkatte het 'n kleurvolle bydrae gemaak tot Khumba on Stage wat op die verhoog was by die Oakhurst Insurance George Arts Theatre oor die afgelope seisoen.
Geskiedenis
Die Oakhurst Insurance George Arts Theatre het 112 jaar gelede ontstaan as 'n publieke skool vir dogters. Tydens die 1950's het die gebou te klein geword vir die skool en die saal is toe gebruik as 'n bioskoop.
Die ou filmprojektors is steeds te sien in die teater se voorportaal. In 1968 het 'n groep vermaaklikheidsentoesiaste die vervalle gebou gekoop en omskep in 'n 217 sitplek teater.
Die eerste vertoning in die teater was 1969. In 2014 het die gebou se buurmaatskappy, Oakhurst Insurance, die gebou onder hul vlerk geneem en dit tot sy volle glorie gerestoureer.
Bradley die volstruis se bekoorlike dansbewegings het veral kinders in vervoering gehad.
Vandag, 48 jaar later, is die Oakhurst Insurance Arts Theatre, 'n wonderlike aanwins vir die area en verryk dit die lewens en harte van almal wat die voorreg het om die gebou te besoek of 'n vertoning daar te beleef.
Vir meer inligting besoek #georgeartstheatre.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'