Hulle is albei van Blanco en het in 2012 aan Hoërskool George, fokusskool vir die kunste, matrikuleer met Dramatiese Kunste as vak.
Die produksie, Duet in 'n malhuis van Joey Monroe Productions is onder die vyftien dramaproduksies wat by die derde Zabalaza-fees van 2 tot 23 Maart in die Baxter-teater in Rondebosch gaan plaasvind.
Die twee gaan op 11, 12 en 13 Maart in die Golden Arrow-ateljee optree. Tydens die uitdunrondte van die Eden-dramafees in 2012, wat 'n voorloper van die Zabalaza-fees is, het Blankenberg en Selisa die prys vir beste Ensemble produksie gekry.
Selisa is ook toe as beste akteur aangewys. Daarna het hulle vanjaar by die Suidoosterfees opgetree.
Albei het ook al by die nasionale toneelkompetisie by Kunstekaap in 2010 en 2011 onder die top 16 wenners beland. Blankenberg is in 2010 tydens die Kwagga Kaleidoskoop in George, 'n kunstefees vir hoërskoolleerders - as beste akteur aangewys. Een van die beoordelaars het na hom as 'n jong Paul Eilers verwys.
In 2012 het hulle vir graad 12-praktiese stukke vir dramatiese kunste waaronder 'n klompie gedigte, prosa-stukke en monoloë aanmekaar "geflans" en George Artsteater se verhoog aan die brand gespeel.
Die stukke het groot werke van bekende skrywers en digters soos André P Brink, Melvin Whitebooi, Peter Snyders en Koos Kombuis ingesluit.
Die talentvolle vriende meen dis 'n groot ding om die gehoor te vermaak.
Die ander lekkerte vir hulle is om van die een karakter in 'n ander te transformeer en die energie te hou.
Die twee plaaslike jong akteurs - Johannes Selisa en Monray Blankenberg tree volgende week in die Golden Arrow-Ateljee in die Baxter-teater, Rondebosch op. Hierdie foto is geneem tydens 'n verskyning as mimiekkunstenaars in 2011 by Carpe Diem-skool. Foto: Tanita Da Silva