Met album-verkope wat meer as 100 000 eksemplare oorskry, 8 Top Tien radio solo-liedjies en meer as 500 konserte agter sy naam, word Elvis as een van die mees suksesvolle kunstenaars in ons land gereken. Hy pluk vandag die vrugte van sy liedjies wat deurweef is met goeie stories en treffende lirieke en melodieë.
Sy jongste album “AFRIKAANS”, sy vorige album “JOURNEY” sowel as sy debuut-album “ELVIS BLUE” het ’n hoë standaard gestel en baie positiewe reaksie onder liefhebbers van oorspronklike musiek uitgelok.
Elvis is die eerste Afrikaanse sanger wat daarin kon slaag om onder Top Tien in die iTunes Stores te pryk – en hierdie groot eer het hom te beurt geval op dieselfde dag wat sy album “AFRIKAANS” uitgereik is. Daarbenewens het sy verskeie SAMA-benoemings oor die afgelope twee jaar weer eens gestaaf dat Elvis een van die mees begaafde liedjieskrywers en sangers in ons land is.
In November 2013, ’n skrale twee maande nadat “AFRIKAANS” uitgereik is, het die album goue status bereik.
Met die album”JOURNEY” het Elvis onder leiding van die gesoute vervaardigers Brian O’Shea, Crighton Goodwill en Theo Crouse in die ateljee gewerk.
Elvis Blue het in 2010 met die titel van Mnet se SA Idol-titel weggestap, en boonop die eerbare en onbaatsugtige ding gedoen en die helfte van sy prysgeld met die naaswenner Lloyd Cele gedeel.
In November 2010 het hy sy album “ELVIS BLUE” uitgereik, wat onmiddellik positiewe reaksie uitgelok het en baie goed deur radiostasies dwarsoor die land ontvang is. Die album spog met platinum-status (meer as 50 000 eksemplare is verkoop) en drie van die liedjies ‘THINGS MY FATHER SAID”, “LIGHTHOUSE” en “SAVE ME” het oornag immergroen treffers geword
In April 2012 word Elvis se album ‘ELVIS BLUE” bekroon met die SAMA-prys vir die Beste Volwasse Kontemporêre Album.
Aan die einde van 2011 het Elvis begin werk aan sy tweede album vir Universal Music “JOURNEY”. Hy het aan die begin van 2012 na New York gereis om saam met Jeff Franzel (van ‘LIGHTHOUSE”-faam) en Pam Sheyne liedjies te skryf en die resultaat was die blitstreffer “LIFELINE” en ’n album propvol uitklop-treffers.
Die tweede solo-liedjie op die album “THAT’S WHAT WE DO” het gou-gou op die suksesvolle spore van “LIFELINE” op die trefferlyste gevolg. Elvis se album “JOURNEY” is met nie minder as 3 SAMA-pryse in 2013 bekroon nie, naamlik Manlike Kunstenaar van die Jaar, Album van die Jaar en Liedjie Van Die Jaar (vir ‘LIFELINE”). Elvis se reaksie op die drie benoemings was: “ Die musiek kan goed wees, maar dit is die gelukkiges wat gehoor word. Enigiets kan gebeur, en ek was nog altyd voorbereid daarop.”
Voordat Elvis as die wenner van SA Idols aangewys is, het hy soos menige musikant eers in ’n paar bands gespeel. Hy het byvoorbeeld die projek MONO begin, waar hy onder dieselfde naam gesing het. Toe MONO se platekontrak verstryk het, het hy besluit om sy vlerke te sprei. Hy het na George verhuis waar hy musieklesse gegee het, sy eie liedjies geskryf het en ’n rustiger lewe gely het.
Daarna het nog ’n Afrikaanse kontemporêre album gevolg wat hy onder sy eie naam, Jan Hoogendyk, uitgreik het. Die album is met ’n ATKV Lier-toekenning bekroon. Sy volgende Afrikaanse album “ONTSKEMER”, wat hy ook onder Jan Hoogendyk uitgereik het, is vir ’n SAMA-prys in 2010 benoem.
Terwyl hy in George gewoon en gewerk het, het hy gereeld by die kinderhuis en Hospice, waar sy vrou werksaam was, vir die kinders en pasiënte gaan sing. “Ek het toe die siek seuntjie Elvis Blaauw ontmoet. Hy wou baie graag ’n klawerbordspeler geword het.” Toe die seuntjie in 2009 gesterf het, het hy besluit om Elvis se naam te laat voortleef en sy nuwe verhoognaam Elvis Blue is gebore.
Terug by sy liefde en passie vir Afrikaans, vertel Elvis dat van die Afrikaanse liedjies op sy nuutste album ‘AFRIKAANS” hom net so na aan die hart lê as “THINGS MY FATHER SAID” en “LIGHTHOUSE” op sy vorige Engelse album.
En met “REDE OM TE GLO” en “SPORE” wat reeds groot treffers is, is die kanse ook baie goed dat van die ander Afrikaanse liedjies op sy nuwe album ook groot treffers gaan word. “Ek stel my siel bloot,” verduidelik hy. “Hierdie album se liedjies is ’n hoofstuk, ’n dokumentering in tyd, van emosies – alles netjies saamgevat om ’n storie wat ons almal mee vertroud is, te vertel.”
Elvis is ’n toegewyde wederhelf en pa en wy ook sy tyd en energie om minderbevoorregtes deur middel van opvoeding te bemagtig – hy is betrokke by die Life Community Services in George waar hy kinders musiek onderrig gee en by die Casterbridge Music Academy.
.jpg)
Die omslag van Elvis Blue se nuutste album, 'AFRIKAANS'.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'