GEORGE-NUUS - Dames Aktueel stel vanjaar weereens nie teleur met die sprekers en kunstenaars wat hulle vir hulle jaarlikse Vrouedag nadertrek nie. Dowwe Dolla, oftewel Margit Meyer-Rodenbeck, is een van die groot trekpleisters.
Kaartjies vir hierdie gewilde jaarlikse glansfunksie by De Dekke is nou beskikbaar. Dit word in September gehou.
Die programgelukspakkie is vanjaar weer propvol verrassings. Die bekende plaaslike onderwyserkunstenaar, Tony Noble, kom deel sy geestelike ervarings deur middel van sy ongelooflike skildertalent en Dala Watts van Idees-tydskrif gaan ‘n paar kreatiewe idees vir geskenke demonstreer.
‘n Baie spesiale gasspreker in die gedaante van Marna Kleynhans, wie se lewenswysheid haar plaaslik bekend gemaak het, se onderwerp is "Wie is ek?"
Sy gaan gesels oor vroue in wie se aard dit is om op hulle gesinne te fokus en soms in die proses hulle eie identiteit te verloor. Marna gaan gaste ‘n bietjie uit hierdie kassie haal en laat nadink oor wie en wat hulle vandag is, en wie hulle oor vyf jaar gaan wees.
Met die skerpsinnige Margit Meyer-Rodenbeck as seremoniemeester kan gaste verseker wees van ‘n heerlike, lewendige aanbieding van die program. Hierdie ‘Dowwe Dolla’ het ‘n meestersgraad in drama. Sy is ‘n bekende stem op radio en seker een van die bekendste en mees geliefde blondines in ons land. Margit is al vereer met ‘n FNB Vita-toekenning vir haar briljante, komiese vertolking van die stuitige Dowwe Dolla-karakter.
Die gaskunstenaars is die gewilde sangpaar Wynand en Chereé Strydom van Langebaan aan die Weskus. Wynand met sy rasperstem kan toor met Koos du Plessis-liedjies. Chereé is benoem vir haar nuutste album, In my drome, in die afdeling Beste Country by vanjaar se Samas.
Wynand en Chereé Strydom is die gaskunstenaars.