Gallery
VERMAAKNUUS - Die immergewilde Jan Blohm het Saterdag, 22 April die gehoor aan sy lippe laat hang met sy optrede by Milkwood Village.
Erika Turvey van Erika Turvey Art Gallery and Studio was gasvrou vir die konsert by Milkwood Village en het gaste behoorlik bederf met ‘n uitmuntende uitstalling by die gallery wat werke deur haarself, Carel de Beer, en Jan se eie boeiende beeldhouwerk, The Bell, ingesluit het. Erika is ook deur Jan uitgesonder as die person wat hom geleer verf het.
Milkwood Village het behoorlik gelewe met stalletjies en kuierplekke wat almal bygedra het tot die fantastiese atmosfeer van die aand.
Erika het baie moeite gedoen en ook gesorg vir mense met spesiale behoeftes, en het uit haar pad gegaan om die Village in ‘n lushof van kuns, kultuur, en kuier te omskep.
Met sy boeiende lirieke en innemende teenwoordigheid op die verhoog, het Jan Blohm die gehoor ingetrek en saam met hom laat “bid in Afrikaans”.
FOTOGALERY: Milkwood Village rock met Jan Blohm
Iemand in die gehoor het dit perfek opgesom: “Jan Blohm, die beeldende kunstenaar wat woorde uit homself beitel en rou vir ons gee... altyd onvoltooid want daar’s nog... Amen.”
Jan Blohm in aksie op die verhoog.
En toe die ontploffing…
Eers het Jan vir Chad Abnett, hoofsanger van die plaaslike rockgroep Betty’s Nuklear, op die verhoog geroep en ‘n elektriese atmosfeer geskep met hulle duet van Jan se trefferlied, Breyten se Brief. Terwyl die gehoor nog snak na asem, klim die res van Betty’s Nuklear op die verhoog saam met hulle en die aand ontplof in ‘n fenomenale rock vertoning soos die Tuinroete lanklaas beleef het.
Jan Blohm en Chad Abnett
Woza, Akkedis!
Asof een aand se behoorlike rock in Afrikaans nie genoeg was nie, was Sondag 23 April weereens ‘n aardskudding by Locals in Groot Brakrivier met die geliefde Afrikaanse rockgroep Akkedis.
In tipiese Akkedis-styl het die groep energiek weggetrek met hul treffer Mama Afrika en vir die volgende paar uur die gehoor op hul voete gehad.
Geen Akkedis vertoning is volledig sonder ‘n huldeblyk aan die legendariese Piet Botha nie. Die groep het hul vertoning afgesluit met ‘n boeiende, emosie-belaaide weergawe van Goeienag Generaal wat almal in die gehoor met ‘n traan in die oog, maar ‘n lied in die hart gelos het.
Die afgelope naweek was die Tuinroete behoorlik tot in sy fondasies geskud. Ons kán rock én (soos Jan Blohm dit so mooi gestel het) bid in Afrikaans!
Akkedis in aksie by Locals in Groot Brakrivier.
Goeienag Generaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’