Só het die gewilde Afrikaanse skrywer, Dana Snyman, verlede Woensdagaand gesê voor sy optrede in die kerksaal van die NG kerk in Hoekwil. Hy het as gas opgetree tydens die konsert van die seniorkoor van die Pionierskool vir Gesiggestremdes vanaf Worcester.
Hierdie groep het hul talente die afgelope week tydens 'n toer in die Suid-Kaap kom uitstal en die gehoor van sowat 140 is trakteer met koorsang, stories en solo-optredes.
Na 'n kort verwelkoming deur ds. Aalwyn Burger, het Ruben Lennox van Toe ons nog kinders was oorgeneem as seremoniemeester en deelnemer saam met die koor.
Die uitstekend afgerigte koor, in hul maroen en swart togas, het die program onder begeleiding van die koorleier, Karen Zaayman, ingelei met geestelike liedere. Daarna is verskeie opgewekte liedjies uitgevoer. Die keuse van liedere en liedjies het mekaar goed aangevul. Ook die afwisseling van solo gedeeltes saam met die res van koor was treffend. Die tydsberekening van die koorlede was verstommend en hulle loop waarlik oor van musikale talent.
Daarna was Dana aan die woord. Staande agter die mikrofoon en geen boek in die hand nie. Vir die meeste 'n verrassing omdat vooraf adverteer is dat hy uit een van sy boeke sou voorlees, maar met die wegval het hy die gehoor onmiddellik geboei en ingetrek.
"Hallo. Nou die dag het iemand my voorgekeer en gesê dat hy my boek gekoop het. Ek het gesê: O, was dit jy?"
Hy het drie van sy tipiese stories van die Noord-Kaap en reise vertel en in die gees van die konsert sy stories om kindwees laat wentel.
Dat hy die enigste kind van 'n predikantsgesin is, weet sy aanhangers uit sy stories. Dat hy 'n fyn waarnemer is van mense, omgewing en gedrag, weet hulle ook.
Dit is egter verstommend hoe hy detail onthou uit sy kleintyd.
Hy het vertel hoe hy op agtjarige leeftyd saam met sy pa en oupa 'n bok moes gaan skiet in Namibië. Dié het glo sy naam opgehad. En jy moes glo destyds 'n bok geskiet het voor jy man kon wees. Dit het hom laat wonder of sy naam sou afreën? Hy het die gehoor saam op reis geneem: die enigste kasset in die bakkie was 'Neem my op vlerke' van Annelie van Rooyen. Die reis was die storie, nie die skiet van bok nie. Hy het man geword na sy oupa uit die bakkie geval het en swetsend opgestaan het, het hy te vertelle gehad.
Die volgende twee stories, van 'n ou en sy gesin wat per karavaan geryloop het en die van sy kleintyd vriend, Simon die tuinier, was gemeng met humor en piëteit. Dana het met pragtige stemnuanses die gehoor geneem van lag, na 'n traan en dan na lag met 'n traan.
Gedurende pouse is die gehoor getrakteer met sang deur Reuben Lennox en solo-optredes van die koorlede. Die pragtige, blonde 12 jarige Robyn Waters, het die gehoor in vervoering gehad met haar stem en is staande toegejuig.
Ander lede van die koor het ook pragtige instrumentale bydraes gelewer. 'n Lieflike gedig was gevoelvol voorgedra deur Chanté Adams.
Die adjunkhoof en toerleier, mnr. Hannes Byleveldt, het gesê dié 38 kinders kom van regoor die land en slegs sommige kan tussen lig en donker onderskei. Tog, tydens die optredes lyk dit of hulle die koorleier se handbewegings met stralende gesigte volg.

Die gewilde skrywer Dana Snyman is glo baie senuagtig as hy voor mense moet optree.