GEORGE-NUUS - Van kleins af het Carlo Jacobs sy passie vir musiek uitgeleef op ‘n verskeidenheid van maniere. Hierdie kunstige man, wat eintlik opgelei is as ekoloog met ‘n eindelose liefde vir die natuur, visvang en jag, het op skool aan operette deelgeneem, op universiteit koor gesing en is ‘n trotse stigterslid van die George Mannekoor.
Carlo is reeds jare betrokke by die NG-gemeente Bergsig as leier van hul weeklikse lofprysing waar hy in sy eie woorde ‘n ‘ledemaat’ is, "want," sê hy, "ek is deel van die liggaam van Jesus Christus, ek behoort aan die kerk van die wêreld".
Deesdae woeker hy met die skryf van sy eie lirieke en het pas sy eerste CD met die gepaste naam Unity opgeneem. Carlo se droom is om met musiekbediening die land vol te toer en daar waar dit die donkerste is, ‘n ligkolletjie te maak.
"Die hele album het so blessed uitgekom," sê Carlo wanneer ons oor sy Engelse rock-album praat.
Die snitte op hierdie musiekversameling is verrassend vars, jonk en verkwiklik. Carlo praat van sy passie vir mensesiele en sy soeke na geleenthede om sy musiek met ander te deel.
"Dit is waaroor die album Unity gaan," sê hy.
"Ons is almal een in God. Gaan lees Johannes 17:20 tot 23, dit is waar die album sy oorsprong gekry het."
Dit is vir Carlo belangrik om ander onvoorwaardelik lief te hê. "Ek het ‘n driven passion vir siele, dit is vir my terrible om te dink dat iemand verlore sal gaan," sê hy.
Carlo wil nie graag in ’n musikale rakkie geplaas word nie en verduidelik dat hy nie in ‘n taal dink wanneer hy liedjies skryf of vir lofprysing kies nie.
Hy beplan reeds om sy volgende album in Afrikaans op te neem, in die styl van Coenie de Villiers en Koos du Plessis, waarna hy ‘n gemengde Afrikaans en Engelse album beplan.
Artikel en foto: Michelle Pienaar