Bekroonde skrywer van die boek, Vaselinetjie, Anoeschka von Meck, stel volgende Woensdag haar nuutste penvrug, Die Ontwaking, bekend by Wordsworth in George.
Die Ontwaking is 'n biografiese verhaal oor die lewe van die vrugte-pionier, Essie Honiball. Anoeschka is ook ‘n gesoute joernalis en het afgelos by die George Herald terwyl sy die boek voltooi het. Sy werk tans by die George Herald se susterkoerant, die Knysna/Plett Herald.
George Herald het met haar gesels oor die proses en belewenis van ‘n biografie te skryf.
George Herald:
Jy het op RSG gesê dat jy baie gesukkel het met die skryf van hierdie boek?
Anoeschka von Meck:
Die Ontwaking was beslis by verreweg die moeilikste skryfprojek wat ek nog ooit aangepak het. Soos gewoonlik het ek geen benul gehad waarvoor ek my inlaat nie! Dit was uitmergelend om verskillende redes:
Eerstens is hierdie nie 'n gewone verhaal soos Vaselinetjie met 'n begin, middel en slot nie, want werklike lewens verloop nie so nie. En aangesien hierdie boek aanvanklik beplan is as 'n suiwer biografie, moes dit feitlik, sinnetjie vir sinnetjie kor-rek wees, en kon ek nie net toelaat dat die storie my lei waar dit wou nie.
Ek moes letterlik deur kratte en tafels vol foto-albums, ou dokumente en briewe werk. Alles was deurmekaar en ek moes dit op 'n tydlyn inpas.
Boonop het tannie Essie, wat 86 is, al baie van die fyner besonderhede van insidente vergeet. Sy sou ook uitlos om my dinge te vertel wat sy nie belangrik ag nie, maar wat ek dan eers later in my onderhoude met ander rolspelers gehoor het en wat essensieel vir die ontvouing van die storie was.
Om 'n leser te boei moet die skrywer 'n deurlopende spanningstempo behou, maar in die regte lewe is daar dikwels seisoene wat daar nie veel in 'n lewe aangaan nie en dan is daar weer tye waar daar erge liefde of trauma en groei is. Die tempo bly nie dieselfde nie.
Die uiteinde was dat tannie Essie voorge-stel het ek skryf eerder fiksie: 'n meer vrye vertelling van ware feite waar ek haar toestemming het om dinge binne konteks in te kleur waar sy byvoorbeeld nie meer iets presies reg kon onthou nie.
Kussing op die kop
Tweedens moes ek met die skryf van hierdie boek letterlik op die Here wag. Ek kon nie net gedissiplineerd gaan sit en besluit nou skryf ek nie. Soms het ek dae aaneen in absolute frustrasie buite in die tuin met 'n kussing wat ek met 'n serp om my kop vasgemaak het geloop (om alle distraksies en klanke uit te sny sodat ek kon konsentreer) en bid dat ek net weer sal begin! My arme ma was later so gespanne dat sy 'n uitslag ontwikkel het.
George Herald:
Watter emosies het jy ervaar tydens die skryf van die boek?
Anoeschka von Meck:
Tannie Essie het deur uiterste emosies en ervaringe in haar lewe beweeg en anderkant uitgekom met 'n diep geestelike volwassenheid. Ek kon eenvoudig net nie altyd bykom by haar smart en donkerste tye nie. Om dit te doen moes ek 'Essie' word.
Dit was 'n ongekende proses vir my. As tannie Essie verlief is, is ek verlief. As sy iemand afsê of sy word verwerp, is ek deur elkeen van daai emosies. Soms het ek vir weke aan so 'n fase geskryf en dan was ek in daardie mindset vir die ganse tyd. Dit was so intens dat ek op 'n stadium verskriklike en angswekkende donker depressies en nagmerries begin beleef het.
Die vlakke van pyn en oorwinning in hierdie boek is wérklik. Ek het hulle deurleef om dit te kan skryf. Ek kon uit my eie lewenservaring net so ver gaan en die res moes die Here basies in die nag vir my wys en laat voel sodat ek dit die volgende dag kon skryf. Sjoe!
George Herald:
In die boek is die leser amper geskok om te lees hoe tannie Essie as 'n jong vrou vir 17 jaar in 'n verhouding met 'n alkoholis was wat haar byna vernietig het. Hoekom sou 'n intelligente vrou soos sy haar so laat misbruik?
Anoeschka von Meck:
In die boek, Women who love too much deur Robin Norwood stel sy voor dat mense, maar veral vroue geneig is om die emosionele atmosfeer van hul disfunksionele kinderjare te herskep in hul verhoudings as volwassenes in 'n poging om daardie pynlike situasie uiteindelik as volwassenes 'uit te werk.'
Tannie Essie was twee keer in haar lewe intens betrokke by twee geniale, maar alkoholverslaafde mans. Dit is slegs met hindsight wat sy kon insien dat beide hierdie verhoudings haar help voorberei het vir haar lewenstaak van totale gesondheid en respek vir die liggaam. Ek is nie persoonlik bekend met alkoholisme nie en ek is glad nie 'n drinker nie. Vir my om haar smart met hierdie worsteling te kon uitbeeld, moes ek uit my eie verwysingsraamwerk van dwelmverslawing skryf: ek was, nes die tannie, co-dependant met 'n man wat aan crack-cocaine verslaaf was. Om so iemand lief te hê is 'n hel wat net vroue wat binne so situasie was, werklik kan verstaan.
Dit is letterlik of iets bonatuurliks jou elke keer terugdryf na daardie man en jy kan jouself nie keer nie, al weet jy dit is besig om jou oor die afgrond te dryf.
George Herald:
Mense wat die boek lees, sê dit vat hulle noodgedwonge op 'n eie geestelike ontwakingsreis?
Anoeschka von Meck:
Indien die boek se lees 'n geestelike reis (oftewel die bewuswording dat jy reeds daarmee besig is) ontsluit, sal ek dit as 'n reuse kompliment beskou. Dit is nie so beplan nie, maar as jy werklik in diepte snap waaroor die boek gaan en veral waarna die hoofstuk Christus & Die Boom van die Lewe verwys, kan dit eintlik nie anders nie.
Anoeschka en Essie Honiball sal vanaf 15:00 op Woensdag, 15 Desember by Wordsworth in die Garden Route Mall wees. Gaan loer gerus in vir 'n geselsie. Om 19:00 dieselfde aand is daar 'n gesellige bekendstelling by meesterskilder Chris Spies se kuns-ateljee in Groot-Brak se hoofstraat. Vir meer inligting, kontak Chris by 071 2129 766 of besoek www.benedic.net.
Anoeschka von Meck (middel) tydens die bekendstelling van Die Ontwaking by die Breytenbach-sentrum in Wellington verlede maand. Van links is dr. Dawie van Velden, Nico Elema van Benedic Boeke, 'n dame van die biblioteek wat Essie en Anoeschka se boeke ontvang en die meesterkuns-tenaar van Groot-Brak, Chris Spies, wat die Boom van die Lewe vir Anoeschka se voorblad geskilder het. Foto: Alwyn van Zyl