Biskop Harker vorm deel van die Association of Christian Based Organisations of George (ACBOG) wat Barney simpatiek gesind is. ACBOG het dié kunstenaar se visie om ‘n koöperasie te stig ondersoek waar mense soos Barney sou kon voordeel trek uit ‘n georganiseerde werkskeppingsinisiatief. Die projek het ongelukkig spoed verloor met ‘n gebrek aan die nodige infrastruktuur en borgskap.
Barney het wel uit dankbaarheid vir biskop Harker se geloof in sy talent en volgehoue morele ondersteuning gevoel hy wil graag een van sy beelde aan ACBOG skenk. Dié pragtige Christus-beeld het nou ‘n nuwe tuiste gevind in die klein kapel by Bishopslea in Yorkstraat.
Die beeld, wat gedurende Paasnaweek begin is, is geskep uit geelhout wat Barney as geskenk ontvang het van Fanie van der Klashorst van Cape Gold. Van der Klashorst, wat ‘n meubelbedryf in die industriële gebied besit, het vir Barney werkspasie beskikbaar gestel om aan sy beelde te werk.
Chacmool is testament vir wreedheid
Barney is tans besig met ‘n groot beeld uit peerhout, wat stadig maar seker besig is om vorm aan te neem.
Die chacmool is volgens Barney ‘n ‘testament vir die wreedheid van die mens’ en is geïnspireer deur antieke Suid-Ameri-kaanse geskiedenis.
Volgens Barney, wat inligting bekom het vanuit Eric von Denikken se literatuur, was daar in die antieke tyd ‘n heilige balspel in hierdie lande waar die verloorder sere-monieel geoffer is.
Die priesters het blykbaar die verloorder se bors oopgesny en sy hart in ‘n chacmool (‘n altaarvormige bak) geplaas en geëet.
Dié skokkende geskiedenis beeld Barney op ‘n simboliese wyse uit met die liggaam van ‘n man wat op sy rug lê en sy hande gebak hou. Barney werk nog aan die beeld en beplan ‘n bak vir die man se hande.
Die beeld hou Barney reeds drie maande aan die gang en sal seker nog ‘n maand neem om te voltooi. Indien iemand kans sien om hom te borg vir die wyle (kuns-tenaars moet ook eet), kontak hom gerus by 071 370 3246.
Barney benodig ook dringend ‘n slypmasjien (grinder) en Arbortech (‘n soort elektriese beitel) waarmee hy sy beelde baie vinniger en met minder moeite kan voltooi. Hy hoop van harte om hierdie toerusting te kan koop met die geld wat die chacmool vir hom moet genereer.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
Barney Matthee oorhandig die Christus-beeld aan biskop Donald Harker.