VERMAAK NUUS - Die film, Vuil Wasgoed, het onlangs by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai weggestap met vyf toekennings vir beste regisseur (Morné du Toit), beste redigering (Quinn Lubbe), beste akteur (Bennie Fourie), beste produksieontwerp (Merishen Wessels) en beste klank ontwerp en oorspronklike musiek (Benjamin Willem).
Die film is ook aanvaar om by die Portland Internasionale Filmfees vertoon te word.
Wim en Kevin droom al vir jare van hulle eie koffiewinkel, maar terwyl hulle wag om dié droom te bewaarheid, werk hulle tydelik in 'n klerewassery.
Die probleem is dat "tydelik" sewe jaar geword het en dat die hoogtepunt van hulle bestaan is om hulle kliënte se klere te "leen" om snags partytjies te crash.
Hierdie stelsel werk goed.
Kevin is selfs op die punt om die liefde van sy lewe te kry, maar dan word 'n onderduimse juweelhandelaar verraai, sy vinger word afgesny en dié vinger eindig in 'n baadjiesak by die wassery.
Teen hulle wil word Wim en Kevin in 'n gevaarlike onderwêreld ingesleep.
Kort op hulle hakke is twee broers met 'n rash, 'n blinde handlanger, twee toppolisiebeamptes en 'n ongenaakbare verraaier.
En iewers staan 'n skeepsvraghouer met 'n kosbare vrag en wag vir die hele spul om toe te sak.
Die draaiboek is geskryf deur Bennie Fourie en die film is vervaardig deur Danie Bester, Bennie Fourie en Bouwer Bosch. Die rolverdeling sluit in Bennie Fourie, Bouwer Bosch, Tim Theron, Stiaan Smith, Nico Panagio, Charlie Bouguenon, Simoné Nortmann, Leandie du Randt Bosch en meer.
"Vuil Wasgoed is die tipe film wat 'n mens van droom om te maak. Dit was sonder twyfel die beste span en die meeste pret wat ek nog ooit gehad het as regisseur," sê Morné du Toit.
"Ons is ontsaglik trots en opgewonde om hierdie film uiteindelik met die publiek te deel."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'