GEORGE NUUS - Badisa het op Dinsdag 9 September tydens hulle algemene jaarvergadering ’n groot verrassing gekry toe Irene Koegelenberg, die George-sakekamer se bestuurder ’n tjek van R12 500 aan hulle oorhandig het.
Die bydrae gaan help om die groot taak van Badisa makliker te maak. Tydens die vergadering is aan almal teenwoordig uitgespel watter rol Badisa in George se gemeenskap speel. Hul visie is om in opdrag van Christus mense in nood te help en gemeenskappe deur middel van doelgerigte en koste-effektiewe maatskaplike diienste te begelei tot selfontwikkeling.
As ’n vrywlliger by Badisa kan ek getuig dat hierdie kantoor met ‘n handvol maatskaplike werkers ’n reuse taak verrig.
Van die programme wat hulle deur die jaar 2024/25 aangepak het, het kritieke kwessies direk aangespreek, wat insluit die bewusmaking van kindermishandeling en -verwaarlosing, opvoeding oor dwelmmisbruik en fetale alkoholsindrom, vroeëkinderontwikkeling, gesinsbeplanning onder die jeug, anti-boelie-inisiatiewe, lewensvaardighede en ouerskapondersteuning. Hierdie is lewensveranderende gesprekke wat daagliks gevoer moet word.
Hierdie toegewyde span glo dat wanneer ’n gemeenskap opgevoed word, jy hulle bemagtig, en wanneer die jeug ingelig word, kan hulle beter keuses in die lewe maak.
Regdeur die jaar het hulle gereelde gemeenskapsuitreike waar hulle kos, klere en noodsakklike materiaal versprei aan diegene wat dit die nodigste het.
Die volgende statistieke toon hoe elke donasie aan Badisa, hetsy finansieel of kos of klere, waardeer word.
Daar is 158 families geregistreer by Badisa. In die afgelope jaar is die Badisa-span besig gehou met 94 korttermyn gevalle en 22 nuwe langtermyn gevalle terwyl ongeveer 1 800 persone deur die jaar bereik is deur die gewone volgehoue programme en dienste.
In 28,7% van gevalle wat hanteer is, is ondersoeke deur die hof gelas; 23,4% was gevalle van kindermishandeling en 21% kinderverwaarlosing. Ander gevalle wat aangemeld is, het 20% uitgemaak en 6% was gevalle met gedragsprobleme.
Die moeilike werk van elk van die maatskaplike werkers is uitgelig tydens die vergadering. Hulle maak met waardering gebruik van mense wat as pleegouers (wat streng gekeur word) of as vrywilligers hulle dienste aanbied.
As vrywilliger het my oë oopgegaan vir dit wat buite my lewensraamwerk aangaan. ’n Mens besef hoe veral kinders kwesbaar en weerloos is waar daar verwaarlosing, mishandeling en die misbruik van dwelms ingesluip het in hul gesinslewe. Maar Badisa George glo dat hulle deur middel van al hul programme en uitreike bydra tot ware verandering in mense se lewens.
’n Herwinningsprojek is begin om fondse vir Badisa in te samel. Die publiek word genooi om al hulle leë, skoon blikkies in ’n blou herwinningssak te gooi en na die Moederkerk se kantoor te bring. Fondse van hierdie projek gaan spesifiek vir kinderterapie. Dit kos ongevveer R450 per sessie. Dink net wat jou leë blikkies vir ’n kind kan beteken.
'We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’