Refentse Morake tree op 24 Junie by Carpe Diem se Onnerridak-vertoning op.
SUID-KAAP NUUS - Die 19-jarige Refentse Morake het deesdae geen bekendstelling meer nodig nie. Veral nie nadat hy skoonskip gemaak het by die 2017 Ghoemas en met vier toekennings weggestap het nie. Op 24 Junie bied Carpe Diem Skool die Onnerridak-vertoning aan met Refentse as gaskunstenaar.
Hierdie fondsinsameling word moontlik gemaak deur Just Property Group en het ten doel om die kritieke uitgawes ten opsigte van leerlinge se persoonlike behoeftes aan te spreek.
Refentse Morake was 17 toe 'n facebook-video waarin hy op 'n sypaadjie in sy tuisdorp Vereeniging kitaarspeel en sing, binne vier dae meer as 160 000 keer gekyk is. Die video is deur Cecilia Marchionna of soos almal haar ken Tannie Kleintjie opgeneem en op facebook gesit.
Refentse het die trefkrag van die video totaal onderskat en van toe af was daar geen keer aan die geliefde jong man se sangloopbaan nie. Reeds kleintyd het Refentse koor-koor-speletjies saam met sy niggies en nefies by ouma Liesbet-hulle se plot buite Meyerton gespeel en hy glo dis waar als begin het.
Tydens 'n onlangse onderhoud met Hanlie Retief verduidelik hy "Musiek is 'n taal wat ek kan praat wanneer woorde nie meer genoeg is nie. Musiek is my pols, my hartstaal, dis hoe ek met myself praat."
Die Onnerridak-geleentheid begin om 16:00 op 24 Junie met 'n gesellige kos- en wynproe. Die publiek sal etes kan koop en wyn kan bestel. Refentse se optrede word voorafgegaan met 'n optrede van die plaaslike kunstenaar Jonty Hendrix & Wade.
Fondse wat tydens die opvoering ingesamel word sal aangewend word om die onkoste van daaglikse doekgebruik weens inkontinensie asook kateters te dek. Sewentien van die skool se leerders moet daagliks doeke dra weens inkontinensie. 'n Totaal van 20 000 doeke word per jaar gebruik en die totale onkoste per jaar is dus R100 000 vir inkontinesie.
Vir meer inligting kontak Karools Hauptfleisch, skoolhoof van Carpe Diem Skool (044- 874 4074 of epos carpekarools@telkomsa.net).
Kaartjies kos R130 en R150.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'
Posted on: 08:11 Fri, 19 May 2017
Your Comments
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: