Die dood is maar altyd 'n taai, bitter, ou toffie. Onsmaaklik. Véral as dit close to home is.
Verlede Vrydagaand het ek, Hugo en André Stander 'n dop by Die Rif gedrink, min wetende dit sou die laaste keer wees dat ons trio saam sit.
Twee ure later het André by sy skoolreunie inmekaargesak. Dit was die einde.
Siestog, hy het só baie na die reünie uitgesien. Dis al waaroor hy vir die afgelope paar maande gepraat het. Dít, sport, sy knap vroutjie, Magda, sy kinders en kleinkinders, want dít was wat vir André saakgemaak het.
Ek verlang na my mater.
Ja, sure, ons het nie altyd saamgestem nie en het een of twee keer tande gewys, maar dit was nooit iets wat nie deur 'n drukkie en 'n dop uitgesorteer kon word nie.
Ek wens ek kan meer soos André wees. As a matter of fact gaan ek van meet af aan my allerbeste gee om soos hy te wees.
Vergewingsgesind, vriendelik, passievol, positief, onbaatsugtig, ruimhartig. 'n Mens waarop ander kan staatmaak maak nie saak hoe groot die probleem is of hoe laat jou kar langs die pad gaan staan nie.
André was permanent bekommerd oor my ouers en hul veiligheid. Dit was vir hom belangrik om te weet hulle gaan oukei wees en hy het hulle nie eers goed geken nie.
"Jy het wonderlike ouers, jy moet hulle oppas."
Ek sal André. Ek sal.
Hy het ook geworry oor ons, soos ek seker is hy het oor sy ander pelle geworry.
"Hugo moet laat kyk na sy gesondheid. Ek ken 'n goeie dokter. Hy moet gaan vir 'n check-up."
Ek sal hom sê André. Ek sal.
"Kristy, jy moenie dat mense jou so ontstel nie. Wees net 'n lekker mens, want dis lekker om 'n lekker mens te wees."
Ek sal probeer André. Ek belowe.
Môreaand speel die Arende in die semi-finale op Outeniquapark vir die eerste keer in BAIE jare. André gaan nie daar wees met sy boekie en sy pen nie.
Die veld gaan leeg wees sonder hom, maar ek is seker hy sal vir ons loer van bo af en die balle net daai ekstra bietjie verder en hoër dra.
Mooiloop my pel. Tot weersiens.