GEORGE NUUS - Pacaltsdorp-speurders ondersoek twee afsonderlike messteekmoorde wat die afgelope tyd in die area aangemeld is.
In die jongste voorval is 'n ma (37) glo deur 'n man op parool voor haar jong seun (11) doodgesteek.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, is polisielede op Saterdag 6 Desember omstreeks 18:00 na Voëlnesvaringsingel ontbied, waar hulle 'n vrou met 'n steekwond in haar bors aangetref het. Sy is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
'n 43-jarige man is in verband met die moord in hegtenis geneem en het Maandag in die George-landdroshof verskyn. Die polisie kon teen druktyd nie sy identiteit of sy volgende hofdatum bevestig nie.
Volgens inwoners bly die omstandighede en die motief rondom die voorval onduidelik.
"Sover ons weet het sy niks met hom te doen gehad nie. Hulle het nie uitgegaan of iets nie. Dit is vir ons almal onverklaarbaar hoekom hy haar [glo] doodgesteek het," het een inwoner gesê.
Die oorledene, wat die week nog formeel deur haar familie geïdentifiseer moet word en dus nog nie deur die koerant geïdentifiseer kan word nie, is oorspronklik van Worcester. Sy het in 'n struktuur op 'n erf in New Dawn Park gewoon, waar die moord plaasgevind het.
Haar seuntjie, 'n gr. 5-leerder by die plaaslike laerskool, het saam met haar daar gebly en na bewering gesien hoe sy vermoor word.
Die verdagte se kinders en hul ma woon glo ook op dieselfde erf. Die verdagte het glo saam met sy ouers op 'n ander erf gewoon.
Uit gesprekke met inwoners wil dit voorkom of die verdagte op parool was vir 'n vorige moordsaak, en reeds vroeër die week dreigemente geuiter het dat hy "iemand gaan doodmaak".
Volgens hulle het die verdagte Saterdagaand ook ander mense in die onmiddellike omgewing met 'n mes gejaag en gedreig. Inwoners beweer dat almal op die erf se veiligheid in gevaar was. Ooggetuies beskryf hom as "heeltemal buite beheer" tydens die voorval.
Die slagoffer se begrafnis vind volgende week in Worcester plaas.
Op Maandagoggend, 8 Desember, het leerders en opvoeders van die skool in 'n vreedsame protes teen geslagsgebaseerde geweld verenig ter ondersteuning van hul medeleerder en alle slagoffers van gesinsgeweld.
Die optog het ook deel gevorm van die skool se betrokkenheid by die 16 Dae van Aktivisme, 'n jaarlikse veldtog van 25 November tot 10 Desember wat bewustheid oor geweld teen vroue en kinders verhoog, gemeenskappe mobiliseer, slagoffers ondersteun en samewerking tussen instansies bevorder om dit te bekamp.
• In 'n onverwante voorval het 'n 30-jarige man onlangs in die hospitaal aan sy beserings beswyk ná hy op 30 November in Adamstraat met 'n mes gesteek is. Hy is twee dae later oorlede. 'n 20-jarige man is in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Die jong leerders het met trots hul plakkate vertoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’