SWEMNUUS - Minke Janse van Rensburg (18), kampioenswemmer van George, het gister (15 April) die 100m downsindroom-vryslagwêreldrekord met amper 'n sekonde verbeter toe sy in 'n veelklas-gestremdheidsitem vir Kate Allwood, 'n gehoorgestremde swemmer, geklop het om eerste te eindig met 'n tyd van 1 minuut 17,61 sekondes. Mia van der Merwe, 'n intellektueel gestremde swemmer, het in die derde plek geëindig.
Dit volg op haar eie wêreldrekord wat sy vroeër die week by die kampioenskap in die 50m vryslag verbeter het van 34:85 na 34:17.
Sy het ook 'n goud verower in die 50m vlinderslag en 'n brons ingepalm in die 100m borsslag.
Minke se pa, Hennie, sê sy geniet galas en neem haar sport net so ernstig op soos kampioene soos Chad le Clos en Roland Schoeman. Sy assosieer graag met hulle by sulke groot geleenthede en sal hulle nader om te gaan gesels. "Sy kyk ook graag swem om te sien wat ander swemmers doen en leer daardeur."
Hy sê sy het 'n groot liefde vir swem en leef haar met hart en siel daarin uit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’