GEORGE NUUS - Eden se tennisspanne het Noord-Boland Saterdag op Oudtshoorn in hul jaarlikse vriendskaplike kragmeting oortuigend met 30-18 geklop, maar in twee ouderdomsgroepe die wind van voor gekry.
Die ope span het met 12-6 gewen en die 60+span met 10-2, maar die 40+ mansspan het met 2-4 die onderspit gedelf terwyl die 50+span met 6-6 gelykop gespeel het.
In die ope afdeling het Eden se mans sowel as die vroue met 5-1 gewen, maar tweede viool in die gemengde dubbels gespeel waar Noord-Boland met 4-2 geseëvier het.
In die kragmeting tussen die twee 50+spanne het Eden se mans met 1-3 verloor terwyl die vroue met 3-1 gewen het.
Sake het in die gemengde dubbels met 2-2 gelykop geëindig.
Eden se 60+span was heeltemal te sterk vir die besoekers.
Die mans sowel as die vroue het met 3-1 gewen terwyl Noord-Boland nie een van die vier gemengde dubbels kon wen nie.
Die sekretaris van die Eden-tennisvereniging, Danie Steyl, het die gasheerklub, Wesbank, namens die unie vir hul puik reëlings bedank.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'