RUGBY NUUS - Vyf jong SWD-rugbyspelers se uitstekende vertonings by vanjaar se Cravenweek en FNB o. 18 Meisiesweek het vrugte afgewerp met hul insluiting in die SA skolespanne.
Matthew Prins van Hoërskool Outeniqua is in die SA skolespan opgeneem, terwyl sy spanmaat, Rufagon Hendricks, vir die SA skole A-span gekies is na hul indrukwekkende vertonings tydens die Cravenweek waar hulle SWD met onderskeiding verteenwoordig het.
Die twee Kwaggas was vroeër vandag, 16 Julie, op die Kolisi-veld by Grey High School in Gqeberha in die tradisionele kragmeting tussen die SA Skole- en SA Skole A-spanne in aksie. Vroeg in die tweede helfte het die SA Skole-span 28 - 7 voorgeloop.
Nog ’n SWD-speler, wat nasionale erkenning ontvang het, is Jacobus de Villiers van Hoër Landbouskool Oakdale, wat ook in die SA skolespan opgeneem is.
Rufagon Hendriks van Hoërskool Outeniqua. Fotobron: Hoërskool Outeniqua/Facebook
Matthew Prins van Hoërskool Outeniqua. Fotobron: Hoërskool Outeniqua/Facebook
Die toekoms van vrouerugby in die streek lyk ook besonder belowend na SWD se indrukwekkende vertoning tydens die FNB o. 18 Meisiesweek. Vir die eerste keer is amptelike SA skolemeisiespanne aangewys, ’n historiese mylpaal vir vrouerugby in Suid-Afrika.
Hoërskool George se Nayhla Jansen en Tatum-Joy Kaboni is albei in die SA skole A-span opgeneem nadat hulle van 6 tot 10 Julie vir die SWD o. 18-span uitgedraf het.
Jansen, kaptein van die o. 18 SWD-meisiespan, het reeds op die openingsdag haar stempel afgedruk toe sy vyf drieë gedruk en as speler van die wedstryd aangewys is. Die SA skolemeisies het die SA skole A-spanne 31 - 17 gewen in kragmeting.
Hoërskool George het die twee spelers op hulle Facebook-blad gelukgewens en gesê hulle het reeds hul skool, SWD en hul gemeenskappe trots gemaak met hul prestasies op provinsiale vlak.
Hoërskool George se Tatum-Joy Kaboni. Fotobron: SWD Eagles/Facebook
SWD se meisiespan het ook as geheel ’n uitstekende toernooi beleef. Die span het twee van sy drie wedstryde gewen en die kompetisie as die sewende beste o. 18-skolemeisiespan in Suid-Afrika afgesluit.
Onder leiding van afrigter Marlene Adams, wat voorheen die Vrystaatse o. 18-meisies na ’n topagtste-posisie gelei het, het SWD se meisiespan die volgende uitslae behaal:
• SWD 44 - 5 Luiperds
• SWD 15 - 10 Oostelike Provinsie
• Blou Bulle 22 - 5 SWD
Nog ’n speler wat haar merk gemaak het, was Aqhama Siko van Hoërskool Percy Mdala in Knysna.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’