RUGBY NUUS - Gerugte dat sommige geaffilieerde SWD-klubrugbyspelers deelgeneem het aan die onwettige vlakkierugbywedstryde wat Sondag op 'n oop stuk veld buite Oudtshoorn plaasgevind het, kon teen druktyd nie bevestig word nie.
Volgens die president van die SWDrugbyunie, Hennie Baartman, distansieer dié unie hom totaal en al van rugbywedstryde wat in die Covid-19-inperkingstydperk gespeel word.
"Alle geaffilieerde klubs van die SWD-rugbyunie is deur middel van twee amptelike skrywes met die aanvang van die inperking ingelig dat geen wedstryde gespeel mag word nie. “Daar sal streng sanksies en tugstappe ingestel word teen SWD geaffilieerde rugbyspelers en klubs wat betrokke is by hierdie onwettige wedstryde,” het hy Dinsdag gesê.
Inwoners van Oudtshoorn en die ganse Suid-Afrika het in ongeloof en woede gereageer op 'n video wat Sondag op sosiale media gesirkuleer het waarin plaaslike rugbyspanne mekaar die stryd op 'n oop stuk veld agter Rosebank aangesê het.
Die Oudtshoorn Courant het die area Maandag besoek en met twee spelers (albei 17 jaar oud) gesels wat by hierdie wedstryde betrokke was. Volgens hulle is die veld van ongeveer 60 m x 30 m, eers na die inperking met grawe en harke ontwikkel om as rugbyveld te dien. “Om eerlik te wees was ons verveeld en dis waarom ons gister besluit het om mekaar te challenge. “Ek persoonlik is bewus van die virus, maar dis nie iets wat ons as 'n onmiddellike gevaar sien nie.
“Dit was lekker om die bal bietjie rond te pass en mekaar te tackle en so. Ek het dit baie gemis die afgelope tyd."
Op 'n vraag waarom hy steeds besluit het om te speel as hy bewus is van die inperking, het hy gesê dat niemand in sy omgewing "siek" is nie en hy dus nie sommer kan aansteek nie. "Grootmense was ook betrokke by die reëlings en hantering van dié wedstryde en dis wat meeste van die ouens veilig laat voel het." Vier rugbyspanne, die Lolipops, Stoners, Zizo'z en 'n span van Toekomsrus het volgens dié twee spelers rondomtaliewedstryde teen mekaar gespeel. Die beeldmateriaal van die video wat versprei is wys tussen 300 en 400 toeskouers het die wedstryd bygewoon. 'n Paar rugbyspelers verbonde aan plaaslike rugbyklubs, wat onder die SWD-rugbyunie se vaandel speel, het volgens dié twee spelers ook Sondag gespeel. Dit kon egter nie bevestig word nie. Die wedstryde het glo om 13:00 begin, maar is om ongeveer 15:00 deur die polisie stopgesit waarna spelers en toeskouers op die vlug geslaan het.
Die kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Ntobeko Mangqwengqwe, het die voorval ten sterkste veroordeel en gesê inwoners moet besef dat die reëls in plek gesit is om lewens te beskerm en nie bloot om mense te weerhou van geliefde aktiwiteite nie. Hy het ook lede van die publiek aangemoedig om die polisie by 044 203 9014 of die Gemeenskaplike Operasionele Sentrum (GOS) by 044 203 7801 te skakel indien hulle van oortredings bewus is. "Dit geld ook vir ondernemings wat onwettig sake doen," het hy gesê.
'n Navraag oor die aangeleentheid en moontlike vervolgings is aan die polisie gestuur, maar teen Dinsdagmiddag is geen reaksie ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'