SUID-KAAP RUGBYNUUS - Die Manne-aand wat Vrydagaand in die banketsaal deur Eljada-Kairos skool aangebied is was 'n reusesukses met ongeveer 300 gaste, sport- en sakelui wat die geleentheid bygewoon het.
Die nasionale Springbok-rugbyspan se afrigter, Rassie Erasmus (foto), en sy bestuurspan was ook teenwoordig by dié aand met Erasmus wat as die hoofspreker opgetree het. Hierdie inisiatief deur Eljada-Kairos skool is van stapel gestuur om fondse in te samel om te verseker dat sportkodes van die skool provinsiaal en nasionaal aan byeenkomste kan deelneem. Volgens Hennie Baartman, hoof van Eljada-Kairos skool, beskik die skool oor 'n magdom talent en bied die fondse wat ingesamel is die skool 'n gulde geleentheid om hierdie leerders te ontwikkel.
Kaartjies het R300 per persoon of R3 000 per tafel beloop. Gap Management (maatskappy van Port Elizabeth), het ook gedurende die verrigtinge 'n tjek van R20 000 aan Baartman oorhandig ter ondersteuning van die fondsinsameling.
Na afloop van die amptelike formaliteite het Erasmus die mikrofoon geneem en dadelik die gehoor laat skaterlag met sy kwinkslae en staaltjies. Hy het onder meer uitgebrei oor sy dae as speler en hoe Engels een van die groot aanpassings vir hom en baie ander spelers was.
Tydens 'n toer in Nieu-Seeland het 'n kelnerin glo vir Os du Randt (voormalige stut van die Springbokke) in Engels gevra of hy sy steak rare, medium of well done wou hê, waarop Os die opsies bloot geïgnoreer het en baie bekommerd geantwoord het dat hy sy steak baie large wil hê, het Rassie skertsend vertel. Daar was ook tyd vir meer ernstige vrae van die gehoor wat Erasmus breedvoerig beantwoord het.
Oor transformasie in die nasionale rugbyspan
"Alhoewel daar transformasie riglyne is word ek deur niemand voorgeskryf wie om te kies nie, juis omdat daar talle top provinsiale swart spelers is wat tans deurkom, het Erasmus gesê. 'n Swart speler soos Aphiwe Dyantyi (vleuel van die Springbokke) is verlede jaar as die Wêreldspeler (deurbraak) van die Jaar gekies. Dis 'n testament van die meriete van swart spelers omdat die wêreld hom immers vir dié toekenning gekies het, nie ek nie. Ek is eerder bereid om my werk te verloor as om nie 'n goeie wit ou 'n kans te gee nie, het Erasmus beklemtoon.
Van links is Mornè Pietersen (bestuurshoof van EDENfm en seremoniemeester van die aand), Rassie Erasmus (Springbok-afrigter), verteenwoordiger van Gap Management, Hennie Baartman (president van SWD-rugby en hoof van Eljada- Kairos skool) en Francois Davids (adjunkpresident van SA rugby).
Oor spelpatrone
''As afrigter glo ek dat 'n ou versigtig moet wees om nie te voorskriftelik met spelpatrone te wees nie omdat 'n speler se aanvalsinstink baie maklik ingeperk kan word. Volgens Erasmus streef die Springbok-span daarna om die situasie voor hom te speel.
Grootste uitdaging van die span
''Ons grootste uitdaging gaan wees om 40 uitstekende spelers te kies uit 'n poel van 1 400 spelers wat later na 31 verminder gaan word.''
Hennie Baartman ontvang die tjek van R20 000 van Gap Management.
Oor die Springbokke se wêreldbeker-voorbereiding en hul kans op oorwinning
Die wêreldbekergroep sal vir sowat 17 weke intens voorberei en daar sal dus geen verskoning wees dat ons nie genoeg voorbereiding gehad het nie. Ons beoog om deurgaans ons sterkste span te speel veral teen spanne soos Japan om ons naam in ere te herstel. Suid-Afrikaners sal altyd verwag dat ons die beker moet huis toe bring, en ons as afrigtingskorps en spelers verwag ook niks minder nie. Die rugbywêreldbekertoernooi wat vanjaar in Japan aangebied word, begin 20 September (Vrydag) met die eindstryd wat op 2 November (Saterdag) sal plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'