GEORGE NUUS - As daar iemand is wat altyd die eindstryd van die rugbywêreldbeker gaan onthou, is dit Eddie Louw van Oudtshoorn.
Met sy korrekte voorspelling van die eindtelling van 12 vir die Springbokke en 11 vir die All Blacks het hy R1 000 gewen in George Herald se rugbyraai-kompetisie. Die prys is deur Upstairs at Harry's geborg.
Amper 1 300 lesers het aan die kompetisie vir die eindstryd van die rugbywêreldbeker deelgeneem. Ofskoon verskeie lesers die een punt verskil reg geraai het, het twee lesers die presiese telling geraai. Ongelukkig vir Claudia Rossouw, het sy egter voorspel dat dit in die guns van die All Blacks sou wees.
Geluk was aan Eddie se kant. Hy was ook die wenner van 'n R500 geskenkpak van Upstairs at Harry's met sy telling vir George Herald rugbyraai vir die Springbokke se wedstryd teen die Engelse Rose.
Louw het verlede Vrydag, 3 November, al die pad van Oudtshoorn gery om sy prys van dr. Willie Cilliers, eienaar van Upstairs at Harry's in George in ontvangs te neem.
Hy is 'n groot rugbyliefhebber. Benewens die Springbokke is hy ook 'n groot Blou Bul-ondersteuner.
Louw het gesê toe hy ingeskryf het, het hy geweet die telling tussen die twee spanne gaan naby wees. "As die Springbokke en die All Blacks in 'n wedstryd speel, is dit altyd naby. Dis nie dat die een span weghardloop met die telling nie."
Hy het die afgelope toernooi fyn dopgehou. Van die 48 wedstryde was hy net met vier verkeerd oor wie sou wen.
Hy het gedink die Bokke sou die toernooi wen. "Ons het op die oomblik van die beste spelers in die wêreld. Die Rassie-faktor was ook 'n 100% faktor."
Louw het geweet dat Faf de Klerk en Handrè Pollard die hele wedstryd sou speel. Dit was ook 'n groot faktor. Deon Fourie het ook 'n groot verskil gemaak.
Hy is baie beïndruk met die Springbokke van 2009 wat teen die Britse Leeus gespeel het en die huidige groep wat die beker gewen het.
Louw is optimisties en glo die Springbokke kan die beker weer in 2027 omhoog hou. Daar is baie van die spelers wat sal deurgaan na die volgende toernooi.
Volgens hom is dit ook baie belangrik wie die volgende afrigter in die plek van Jacques Nienaber gaan wees. Met sy R1 000 prysgeld is hy van plan om doringhout te koop om te braai.
Cilliers het gesê dit was 'n groot voorreg om die geleenthede te borg. "Ek is bly die Springbokke het gewen. Dit beken baie vir nasiebou."