Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die bulspanne van Progress en Evergreens het Saterdagmiddag voor 'n volgepakte Outeniquapark die stryd met mening aangepak.
Die SWD Premierligawedstryd was 'n voorwedstryd vir die Guinness Pro14-wedstryd tussen die Ierse klub Munster en die Southern Kings.
Progress, wat die verdedigende kampioen en voorloper op die punteleer is (19 punte), het Evergreens in 'n naelbytstryd met 19-18 geklop. Rustyd was die wenspan met 14-13 voor.
Dit was 'n klipharde wedstryd wat gekenmerk is deur rotsvaste verdediging deur beide spanne. Beide spanne het die groot skare vergas met aanskoulike hardlooprugby wat weereens 'n bewys is dat klubrugby in die Suid-Kaap kerngesond is.
Die skeidsregter, Ruhan Meiring, het die wedstryd goed hanteer. Shaun Raubenheimer (flank) van Progress is net voor rustyd van die veld gestuur met 'n geelkaart vir 'n gevaarlike hoogvat.
In die tweede helfte is Francois Kemp (agtsteman) van Evergreens vir 'n boorvat asook sy spanmaat, Kerwin Appollis (skrumskakel), vir 'n hoogvat, ook met geelkaarte afgestuur.
Progress het eerste bloed geruik toe hul binnesenter en kaptein, Werner Jacobs, in die negende minuut onder die pale gaan druk het.
Ethan Williams (buitesenter) is in die 19de minuut oor vir die wenspan se tweede drie nadat hy 'n bal opgevolg het wat deur sy losskakel, Gladwell Jafta, deurgeskop is.
In die 36ste minuut is die talentvolle Marshall Boesak (buitesenter) oor vir Evergreens se eerste drie.
Wayne Khan (plaasvervanger-haker) het net na rustyd in die hoekie gaan druk wat Evergreens met 18-14 laat voorloop het.
Solomon Manxodidi (plaasvervanger-flank) van die wenspan het die doodskoot geplant toe hy in die 70ste minuut oor is vir sy span se derde drie. Jafta het ook met 2 doelskoppe geslaag.
Vir Evergreens het Chadley Stride (heelagter) 2 strafdoele oorgeklits. Verbroude skoppe na die pale het hul span duur te staan gekom.
Progress se ysters voorlangs was hul lostrio, Christo du Plessis, Davon Raubenheimer, Shaun Raubenheimer, Justin Levandal (slot) en Bredni Bestenbier (loskopstut). Hul ervare plaasvervangers Solomon Manxodidi en Wendell Pondo se ondervinding het ook in die tweede helfte kalmte in hul span gebring toe hul onder druk was.
Ronald Fortuin (heelagter) en Gladwell Jafta (losskakel) van die wenspan was goed onder die hoë bal en het puik verdedig.
Vir Evergreens het Buran Parks (flank en kaptein) voorlangs weereens 'n barshou gespeel. Sy slotte, Zander Bekker, David Claassen, Anvor Prins (loskopstut), Francois Kemp (agtsteman) en die plaasvervangers Wayne Khan en Gershwin Muller het hom ook goed bygestaan.
Agter die skrum het hul skrumskakel, Kervin Apollis, die oog gevang. Evergreens se vleuels, Luciano Jones en Kyle Hans het met hul spoed beïndruk.
Kyk 'n video hieronder.
ARTIKEL: ANDRé STANDER
FOTO'S: HUGO REDELINGHUYS & ANTON GERICKE
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'