GEORGE NUUS - Die Ierse klub, Munster, bring Saterdagmiddag 'n sterk internasionale geur na Outeniquapark wanneer hulle in 'n Guinness Pro14-wedstryd teen die Southern Kings te staan kom.
Die Iere spog met spelers soos CJ Stander, Pete O'Mahony en Conor Murray, wat al drie in 2017 vir die Briste Leeus in Nieu-Seeland teen die All Blacks uitgedraf het.
Stander, 'n geharde agtsteman wat van George afkomstig is, sal ongetwyfeld 'n groot gunsteling by die toeskouers op Outeniquapark wees. Sy broer, Janneman, speel tans vir die SWD Arende.
Dié wedstryd skop om 19:30 af.
Maar die wedstryd wat gewis die toeskouers in hul hordes gaan lok, is die kragmeting tussen Progress, klubkampioen in die SWD Premierliga en Evergreens, 'n voormalige kampioen. Progress gee tans die pas aan in die Premierliga met 10 punte met Evergreens derde op die puntelys op 7 punte.
Hier kom beslis 'n grote en as twee olifantbulle mekaar pak gaan die gras seerkry. Die wenner van dié tweestryd gaan die res van die seisoen met groot vertroue tegemoet storm.
Dié twee spanne pak mekaar om 16:40.
Hul derde en tweede spanne begin van 13:30 af teen mekaar kragte meet.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'