RUGBYNUUS - Moenie die span te gou afskryf nie!
Dit was die Arende se boodskap verlede Saterdagmiddag aan hul bekommerde ondersteuners toe hulle in hul openingswedstryd in die Curriebeker se Eersteliga teen die Valke met 33-33 gelykop gespeel het.
Vooraf is 'n slagting voorspel met die Arende wat weer 'n klomp klubspelers moes inspan teen 'n gedugte span wat min van sy topspelers verloor het. En het daardie klubspelers die Valke 'n punt bewys.
"Dit was 'n fenomenale spanpoging," het Martin de Vos, spanbestuurder van die Arende, aan die George Herald gesê.
"Ons het aan die spelers vrypas gegee om avontuurlustig te speel, maar tog binne die raamwerk van ons spelplan. Dit het hulle met volle oorgawe gedoen en 'n agterstand van 33-19, met nog sowat nege minute oor, in 'n gelykopuitslag omskep. Dit was vir ons so goed soos 'n oorwinning.
"Die feit dat ons eers Saterdagoggend na Kempton Park gevlieg het, was 'n meesterskuif en het die lugdrukkopseer, wat besoekende spanne in die laaste 20 minute kelder, heeltemal geneutraliseer. Trouens, ons het die spel die laaste twining minute oorheers."
In 'n puik spanpoging was die plaasvervanger-losvoorspeler Freginald Afrika (losvoorspeler) en die witkopslot Ettienne Oosthuizen, uitmuntend met Leighton Eksteen (heelagter), Shario Rosenkrantz (vleuel) en Dillon Snel (skrumskakel) die keur onder die agter-spelers.
Oosthuizen is aangewys as speler van die wedstryd. "Hy was massief," het De Vos sy spel opgesom.
En die "ou" Leighton Eksteen het opgedaag en die tipe spel gelewer wat hom die vorige seisoen, toe die Arende die Eersteliga gewen het, bo sy eweknieë in die agterste vesting laat uittroon het.
Eksteen gaan erg gemis word, want hy speel Vrydagaand op Outeniquapark in sy laaste wedstryd vir die Arende teen die Luiperds voordat hy na Rusland vertrek om daar klubrugby te gaan speel.
Udachi (good luck) Leighton!
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'