Gallery
GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua se eerste rugbyspan het Saterdagmiddag op hul tuisveld vir een van die grootste skokke in skolerugby in Suid-Afrika gesorg toe hulle die gedugte span van Paarl Gimnasium met 27-24 geklop het.
Vir Gimmies se afrigters, die voormalige Springbok-linkervleuel Pieter Rossouw en Helmut Lehmann, moes dit 'n bitter pil gewees het om te sluk.
In die kamp van die Kwaggas het die vreugdevure hoog gebrand nadat hulle in die begin van die seisoen gesukkel het om aan die gang te kom. Hulle het egter die bordjies verhang en ses agtereenvolgende oorwinnings behaal.
"Ons het dit reggekry om hul besluitneming korter te maak met ons lynspoed op die verdediging.
"Wat vir my uitgestaan het, is hoe kalm die spelers gebly het deur die hele wedstryd wat gewys het watter geloof daar in die span was om die wedstryd te wen. 'n Teken van 'n goeie span is dat hy sy geleenthede moet gebruik om punte aan te teken en dit het die Kwaggas vandag gedoen," het Abre Minnie, afrigter van Outeniqua, na die wedstryd aan die George Herald gesê.
Die wenspan se beste speler was ongetwyfeld hul Cravenweek-speler, Darren Fortuin (heelagter). Fortuin se lang buitelynskoppe, rotsvaste verdediging en oog vir 'n gaping het baie druk op die besoekers geplaas.
James Molentze (losskakel), Aylen Schabort (regtervleuel), senterpaar, Adolf Lombaard en Emileo Otto het ook agterlangs uitstaande spel gelewer.
Voorlangs het Stephan Leonard (haker), seun van die voormalige Springbok-agtsteman, Anton Leonard, slotte J P Terblanche, Louis Meiring en lostrio, Braam van Huyssteen, Ruben Coetzee en Andreas Breytenbach (kaptein) die vonk verskaf.
Kwaggas se drieë is gedruk deur Otto (2) en Coetzee. Molentze slaag met 3 doelskoppe en 2 strafdoele.
Outeniqua se eerste netbalspan het ook koning gekraai toe hulle die Gimmies in 'n spannende wedstryd met 33-31 geklop het. Adele Agenbag het 18 doele en Anuchka Julyan 15 doele, aangeteken.
Agenbag is aangewys as speler van die wedstryd.
Gimmies se dogters en seuns o.18-hokkiespanne het die bordjies verhang deur onderskeidelik met 6-0 en 3-1 te wen.
Ander uitslae:
Rugby:
o.19B: OHS verloor 5-19. o.19C: OHS verloor 0-63.
o.16A: OHS verloor 3-31. o.16B: OHS verloor 0-48.
o.15A: OHS verloor 21-28. o.15B: OHS verloor 0-48.
o.14A: OHS wen 6-3. o.14B: OHS verloor 7-11. o.14C: OHS verloor 5-14.
Netbal:
o.14A: Gelykop 16 elk. o.14B: OHS verloor 7-14. o.14C: OHS verloor 11-22. o.14D: OHS wen 14-7. o.14E: OHS verloor 3-12.
o.15A: OHS wen 26-17. o.15B: OHS verloor 14-18. o.15C: OHS verloor 7-26. o.15D: OHS wen 16-15.
o.16A: OHS verloor 11-33. o.16B: OHS verloor 8-38.
o.16C: OHS verloor 10-30. o.16D: OHS verloor 20-30. o.16E: OHS verloor 4-20.
o.17A: OHS verloor 11-19 o.17B: OHS verloor 17-25. o.17C: OHS verloor 13-14 o.17D: OHS wen 18-14.
o.18B: OHS wen 29-21 o.18C: OHS verloor 7-30. o.18D: OHS verloor 12-18 o.18E: OHS verloor 5-35.
Hokkie (dogters):
o.14B: OHS verloor 0-1 o.16A: OHS verloor 1-5.
o.16B: OHS verloor 1- 5 o.18B: OHS verloor 0-1.
o.18C: OHS verloor 1-3.
Hokkie (seuns):
o.14A: OHS verloor 0-1 o.14B: OHS verloor 1-2
o.16B: OHS wen 3-0
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'