GEORGE SPORT - Die kragmeting tussen die eerste rugbyspanne van Hoërskool Outeniqua en Grey College van Bloemfontein op Saterdag 11 April, sal nog baie lank onthou word.
In 'n pragvertoning het die Kwaggas hul merk gemaak as 'n span om dop te hou.
Verlede jaar se 90 - 3 loesing teen die magtige manne uit Bloemfontein (tans tweede gekeur in Suid-Afrika) was 'n harde les. Maar, die span wat vir Saterdag se wedstryd (wat Grey 29 - 18 gewen het) op die veld gedraf het het 'n nuwe energie getoon.
Die eerste helfte was kop-aan-kop met die telling gelykop teen halftyd. Die Kwaggas het eerste punte aangeteken met 'n omgeskakelde drie om vroeg reeds 7 - 0 voor te loop.
Grey antwoord toe kort daarna ook met 'n drie maar, mis die doelskop. 'n Paar minute later sit die Kwaggas 'n strafskop oor die pale om 10 - 5 voor te loop.
Kort voor halftyd glip Grey met nog 'n onomgeskakelde drie oor die doellyn om die halftydtelling 10 elk te maak.
Die tweede helfte was net so 'n naelbyt affêre. Tien minute voor die einde was die Kwaggas 18 - 17 voor en daar was 'n gedruis oor 'n moontlike opskudding onder die skare. Grey College moes diep delf om die wedstryd uiteindelik met 29 - 18 te wen.
Die Kwagga-losskakel, Virgil Pocpas, kry die wedstryd weer aan die gang nadat Grey punte aangeteken het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’