GEORGE NUUS - Die aanhoudende swaar reën wat die Tuinroete die afgelope week getref het, het daartoe gelei dat alle klubrugbywedstryde op munisipale sportvelde in George dié naweek tot stilstand gedwing is.
Maar rugbyliefhebbers hoef nie sonder aksie klaar te kom nie, want alle paaie lei Saterdag 9 Mei na Outeniquapark waar die Dotsure SWD Arende teen die Luiperds speel.
Die wedstryd skop om 15:00 af en word as ’n beslissende kragmeting in die SA Bekerreeks beskou.
Die George-munisipaliteit het vanmiddag in ’n persverklaring aangekondig dat geen rugbywedstryde van 8 tot 10 Mei op munisipale sportfasiliteite toegelaat sal word nie weens die nat en gevaarlike toestande op die velde.
Volgens die munisipaliteit is die besluit geneem in die belang van spelerveiligheid, asook om verdere skade aan die sportfasiliteite te voorkom.
Die reëling sluit egter nie wedstryde by Outeniquapark in nie, waar voldoende maatreëls in plek is om oortollige water op die speeloppervlak doeltreffend te bestuur.
Die uitstel raak onder meer die Superliga A-kragmeting tussen Progress van Rosemoor en Groot-Brakrivier.
Die wedstryd tussen All Blacks van Oudtshoorn en Blanco, wat in Oudtshoorn sou plaasvind, is ook uitgestel. Geen nuwe datum vir dié wedstryde is nog vasgestel nie.
Die hekke by Outeniquapark maak om 11:00 oop.
Nog wedstryde op Outeniquapark:
B-veld:
10:00: George C teen Evergreens C (vriendskaplike wedstryd)
11:15: Progress C teen Groot-Brak C
12:30: Progress B teen Groot-Brak B
14:00 George B teen Albertinia Rangers B
A-veld
17:15: George A teen Albertinia Rangers A
19:00: Progress A teen Groot-Brak A
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’