GEORGE NUUS - 'n Toekomsblik op Suid-Afrikaanse rugby was verlede week te sien op Outeniquapark toe die Halfway Barefoot Champs-toernooi die eerste keer aangebied is.
Dit was so 'n groot sukses dat die organiseerders van voorneme is om dit weer aanstaande jaar aan te bied.
Dit is die breinkind van Heyneke Meyer, 'n voormalige afrigter van die Springbok-rugbyspan.
Wynie Strydom, wat onder meer diep spore in Blou Bul-rugby getrap het, is die operasionele bestuurder en mede-eienaar van die toernooi.
Altesame nege skole, waarvan verskeie plaaslike skole, het deelgeneem en 18 wedstryde is gespeel. In totaal het 18 spanne gespeel - nege o. 11- en nege o. 13-spanne.
Die toernooi het verlede Dinsdag, 29 Maart, begin. Daar is ook Woensdag rugby gespeel. Donderdag was 'n af dag en Philip Snyman, voormalige kaptein van die Blitsbokke en Bevin Fortuin, 'n oud-Springbok, het die skoolseuns toe touwys gemaak in die fynere kuns van rugby. Vrydag en Saterdag is die toernooi afgehandel.
Strydom het Maandag gesê dit was wonderlik om te sien hoe die seuns dit geniet het. Daar moet in gedagte gehou word dat vir baie van die seuns dit die eerste keer was dat hulle in so 'n toernooi gespeel het. Dit was as gevolg van die beperkings van die Covid-19-pandemie die afgelope twee jaar.
Toe hulle Dinsdag en Woensdag op die veld gedraf het, was hulle aanvanklik onseker, maar teen Vrydag en Saterdag het hulle selfvertroue gehad. Die geleentheid het baie vir die spelers beteken en 'n voorsprong vir die seisoen gegee.
Vir elke wedstryd is 'n speler van die wedstryd aangewys en dit het vir groot opgewondenheid gesorg. Daar was baie vaardighede, spoed en goeie skopwerk by die rugbyspelers. Wat hy by die toernooi gesien het, het hom hoop vir die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby gegee. Daar kon dalk 'n toekomstige Springbok of twee in aksie gewees het.
Die jongmanne ondersteun 'n spanmaat in die lynstaan.
Volgens Strydom was die spelers, afrigters en onderwysers baie professioneel. "Ons rugby is van laerskool tot hoërskool vlakke in baie goeie hande."
Die grootste bron van kommer is dat van die spelers na skool nie meer aanhou om rugby te speel nie. Dis 'n aangeleentheid wat deur die rugbyadministrateurs aangespreek sal moet word.
Fortuin het na die afrigtingskliniek gesê o. 11 en o. 13 is waar die grondslag gelê moet word. Daar moet in gedagte gehou word dat dit nie 'n professionele vlak is nie.
Volgens hom moet op hierdie vlak aandag gee word aan basiese vaardighede. Die fynere kunsies moet geleer word en dit is baie belangrik dat spelers geleer moet word hoe om in kontak in die spel in te gaan.
Op die vlak gaan dit nie altyd oor wen of verloor nie, maar die ontwikkeling as mens en speler. "Ons moet kinders padkos gee vir die pad."
Philip Snyman, (links) 'n voormalige kaptein van die Blitsbokke, Wynie Strydom, operasionele bestuurder en mede-eienaar van die toernooi en Bevin Fortuin, oud-Springbok. Snyman en Fortuin het 'n afrigtingskliniek vir die spelers gehou.
Van die jong spelers op Outeniquapark.
Philip Snyman, 'n voormalige kaptein van die Blitsbokke wys die fynere kunsies van rugby aan van die spelers tydens die toernooi.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'