GEORGE NUUS - Janneman Stander is aangewys as die kaptein van die SWD Arende wat môre, Saterdag 11 Februarie, in die Wolfson-stadion in Gqeberha teen die OP Olifante in Gqeberha uitdraf. Edwin Sass is die onderkaptein.
Die wedstryd begin om 15:00 en is die Arende se eerste amptelike wedstryd van die nuwe seisoen. Die wedstryd is in die eerste divisie van die Curriebekerreeks.
Die kapteinskap is natuurlik niks vreemds vir Stander nie. Hy was in 2017 en 2018 ook kaptein van die span.
Rugbybloed loop dik in die Stander-familie se are. Janneman se pa, Jannie, het in die verlede ook vir die Arende uitgedraf. Sy broer, CJ Stander het in die verlede internasionaal sy merk op die rugbyveld gemaak en onder meer vir Ierland en die Britse en Ierse Leeus uitgedraf.
Janneman het vanoggend (Vrydag) gesê dis 'n groot eer om weer kaptein te wees. "Dis 'n groot verantwoordelikheid om die span deur te vat. Die spelers is toegewyd. Ons glo ons gaan goed doen. Dis 'n groot voorreg."
Hy glo die span sal uiteindelik daarin slaag om vir die Curriebekerreeks te kwalifiseer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'