GEORGE RUGBY-NUUS - Die weg is gebaan om een van die grootste sporttoernooie in George se geskiedenis te vestig en aan te bied. Die George Tens Sport & Lifestyle Festival sal van 2 tot 5 Desember by Outeniquapark en omliggende plekke plaasvind.
Ofskoon dit een toernooi is en rugby die hoofdis op die spyskaart is, sal ander sportsoorte soos gholf, netbal, rolbal, bergfietsry en veldwedlope (trail running) ook aandag kry. Elke geleentheid sal op sy eie plaasvind.
In die stadium hou die organiseerders bietjie asem op en hoop dat toeskouers teen die tyd wat die toernooi aangebied word, die geleenthede sal kan bywoon.
Dryfkrag agter die toernooi
Die dryfkrag agter die toernooi is Heyneke Meyer, voormalige afrigter van die Springbok-rugbyspan en Ig van der Merwe. Bekendes soos Victor Matfield, Ernie Els en AB de Villiers sal as ambassadeurs vir die toernooi optree.
Die George-munisipaliteit is ook by die toernooi betrokke. Daar word gehoop dat met die toernooi dieselfde gees sal heers as toe die internasionale sewesrugbytoernooi in die verlede in George gehou is.
Meyer het Maandag in 'n eksklusiewe onderhoud aan George Herald gesê die planne is op koers. Hy wil sien dat dit een van die grootste sporttoernooie in George se geskiedenis word. As dit nie in die eerste jaar van aanbieding realiseer nie, kan dit groei.
Meyer het destyds die SWD Arende afgerig en hy onthou die vol stadion op Outeniquapark. Meyer woon deesdae in Groot-Brakrivier en het 'n sagte plekkie vir die omgewing en wil graag iets teruggee vir die gebied.
Inskrywings
In die stadium is dit nie moontlik om te sê hoeveel spanne gaan deelneem nie. Daar begin al hoe meer inskrywings inkom. Daar word gehoop dat minstens 75 rugbyspanne sal deelneem en minstens 30 rugbyspanne in die oop-afdeling sal meeding.
Daar is ook afdelings vir laer- en hoërskole, studente-koshuisspanne en sosiaal-amateurspanne. Dit sal die eerste keer wees dat skole aan so 'n toernooi deelneem. Die plan is om soos die toernooi groei meer skolespanne te betrek.
Volgens Meyer is daar baie belangstelling in die toernooi. Hy het benadruk die geleentheid gaan oor baie meer as net rugby en kan 'n groot ekonomiese inspuiting vir George beteken net soos die destydse sewestoernooi 'n positiewe impak op George se ekonomie gehad het.
Buiten dit, is daar ook ander voordele soos die waarde van sport. Meyer het verwys na die destydse sewestoernooi toe afrigting in die aanloop in gemeenskappe plaasgevind het.
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste, het die planne vir die toernooi verwelkom.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'