Só het Johan Prinsloo, uitvoerende hoof van SWD-rugby, in 'n telefoniese onderhoud aan die George Herald ná afloop van die tweede sewestoernooi gesê. Die toernooi het Saterdag begin en Sondagaand teen einde geloop met die afhandeling van die klubfinaal tussen die Hand on Heart-span van Kraaifontein en Pacaltsdorp se Evergreens. Die Kapenaars het met 29-12 gewen.
Die Suid-Afrikaanse Akademiespan, die Samurai, het die Premierliga-sewes vir die tweede agtereenvolgende jaar gewen deur die Titans in die eindstryd met 33-17 te klop.
Ten spyte van die baie reën net voor die toernooi, is sewesrugby van hoogstaande gehalte gesien. Benewens die Samurai het die Titans, Kenia, wat deur die Suid-Afrikaner Paul Treu gebrei word, en die Luiperds beïndruk met hul spoed en aanvallende spel. Die SWD Arende het verras en die halfeindstryd gehaal waar hulle deur die Samurai geklop is. Om die uitspeelplek om die derde en vierde plek het Kenia hulle geklop. Maar 'n vierde plek, sê die Arende-afrigter, Bevin Fortuin, is nie te versmaai nie.
'n Paar positiewe dinge het gewys die toernooi, hoewel nog in sy kinderskoene, groei. Daar was beslis meer toeskouers op albei dae as met die eerste toernooi in 2012. Dis blote bespiegeling, maar die uitstel van die toernooi van 13 en 14 Desember 2013 na vroeg Januarie vanjaar as gevolg van Nelson Mandela se begrafnis, het waarskynlik 'n invloed gehad dat nie nog meer mense dit bygewoon het nie. In Desember wemel die Suid-Kaap van besoekers waarvan die grootste gros vroeg in Januarie reeds huiswaarts gekeer het.
Die organiseerders was egter tevrede met die groter opkoms.
Maar sou die organiseerders besluit om dit wel voortaan in Januarie aan te bied om buitelandse spanne soos Kenia en Engeland te akkommodeer, kan dit rugbyliefhebbers oral in Suid-Afrika lok om hierheen op te trek. Treu het aan die George Herald gesê Januarie pas die Keniane baie beter omdat hulle die sewestoernooi gebruik as voorbereiding vir die Wêreldreeks se eerste toernooi op 24 Janua-rie in Las Vegas. Volgens hom is daar verskeie oorsese spanne wat die George-toernooi in Januarie sal ondersteun om dieselfde rede.
Die sewestoernooi wat hoofsaaklik vir die plaaslike klubs aangebied is om saam te val met die Premierliga-toernooi, is allerweë verwelkom en kan vorentoe net goed inhou vir klubrugby in dié SWD. Dit was ongetwyfeld ook goeie blootstelling vir klubspelers om voor 'n groter gehoor te speel - en dalk raakgesien te word.
Een klagte oor die toernooi was oor die duur prys van kaartjies. Dit het baie plaaslike ondersteuners afgesit en die organiseerders sal mooi hieroor moet besin. Een besoeker, wat nie sy naam wou noem nie, het gesê die kaartjies van die SA Sewestoernooi, wat onlangs in Port Elizabeth aangebied is, was baie meer bekostigbaar. Duur kaartjies hou beslis mense weg, het hy gesê.
Maar plaaslike sakelui het rede gehad om breed te glimlag. Blyplek in hotelle en gastehuise was maar skraps en restaurante was van Vrydag af druk besig. Vir George bring dit 'n welkome ekonomiese inspuiting en 'n groter toernooi sal dit aansienlik bevorder. Dit kan dalk ook plaaslike besighede aanmoedig om op groter skaal by die sewestoernooi betrokke te raak.
Toeskouers op die hoofpawiljoen op Outeniquapark sing lustig saam met die Living Ball-span by Sondag se sewestoernooi.
Hierdie geharde rugbyondersteuners het dit duidelik gemaak wie hul gunstelingspanne is. Van links is Louis Steyn van George, Frikkie de Jager van Beaufort-Wes en Theuns Kleinhans van die Vrystaat.
Eregaste wat ook die burgemeestersonthaal bygewoon het, is van links: Henry Paulse, Wes-Kaapse adjunkdirekteur vir gespe-sialiseerde sport, Moses Gericke, president van Atletiek SWD, Kidron Kaboni, sportontwikkelingsbeampte van George-munisipaliteit, en sy vrou, Carol.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'