Evergreens het met 27-23 gewen nadat Progress met rustyd nog met 13-10 voor was. Evergreens het vyf drieë gedruk en het vyf bonuspunte verdien wat hom na die tweede plek op die puntelys opgeskuif het. Progress het 'n enkele punt verdien en sy tweede plek aan Evergreens afgestaan.
Evergreens spog met 71 punte, Barbarians, wat voorloop, het 72 punte en Progress lê derde met 68 punte.
Dié twee spanne het mekaar in Rosemoor van die afskop af soos twee bronstige bulle aangedurf met nie een wat skiet wou gee nie. Plettervatte het soms soos geweerskote in die volgepakte stadion weergalm en menige toeskouers het kopskuddend hard-op gewonder hoe al die spelers ongeskonde daaruit gekom het.
Tog het dit sy tol onder die Evergreen-spelers geëis. Alvin Wildeman het sy been gebreek en Marvin November (kaptein) het sy rug beseer.
Evergreens het voorlangs oorheers, veral in die vaste fasette. Maar hoe dan anders as jy twee Arende-stutte, Lyle Delo en Dean Hopp, kon inspan om in die skrums en vaste los die toon aan te gee. Dis twee groot kêrels dié en as hulle koponderstebo aangestorm kom is dit wys om ekstra hulp in te roep om hulle te stuit. Manalleen kan jy 'n paar tande verloor.
Progress se agterlyn was, veral in die eerste helfte, kookwater en het soms die besoekers se verdediging skoon oorhoops gehad. Net desperate verdediging deur Evergreens het die tuisspan van die doellyn af weggehou. Met beter ondersteuning kon Progress meer drieë gedruk het.
Maar in 'n gelykopstryd - en boonop 'n derby met baie op die spel - val punte nie sommer in jou skoot nie en moet jy jou kanse gebruik as dit opduik.
Albei spanne verdien 'n pluimpie vir dié skoon wedstryd. Hoewel kliphard, was daar nooit onnodige geniepsige spel betrokke nie. Nog 'n pluimpie vir die toeskouers wat bankvas agter hul spanne gestaan en deurentyd luid toegejuig het. Geen onaangename voorvalle hier nie met die veiligheidsbeamptes wat, weereens, die orde gehandhaaf het.
Ook 'n besondere pluimpie aan die skeidsregter, Jaco de Wit, wat in sy 50ste Premierliga-wedstryd geblaas het en die potensieel-plofbare derby met finesse gehanteer het.
Progress het Saterdag 'n Everest om uit te klim wanneer hy die voorloper, Barbarians, in 'n wegwedstryd in die D'Almeida-stadion aandurf. Evergreens, daarenteen, het 'n veel makliker wedstryd op sy tuisveld teen Crusaders.

Hierdie ondersteuneer van Progress het haarself gate uit geniet.

Joseph Fortuin, blitsvleuel van Evergreens, sleep vir Bradley Pietersen van Progress aan sy trui terwyl Llewellyn Treurnicht naderstorm.
ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-SPORTREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'