Die wedstryde tussen Oakdale en Paul Roos het baie opwinding gebring. Harde bene is gekou en kele was hees geskree langs die velde.
Alhoewel Paul Roos die oorhand gehad het in die meeste wedstryde was dit ‘n ander storie in die stryd tussen die eerste spanne.
Paul Roos het ‘n boerbok as hul gelukbringer gehad en Oakdale se alombekende groot Bul het sy kant langs die veld gebring om gees te bou.
Vanaf die afskop tot die eindfluitjie het beide spanne 100% gegee. Toeskouers het naels gekou tot die laaste minute.
Oakdale se oorwinning is verseker met ‘n drie deur Dewald de Lange (binnesenter) en ‘n doelskop en drie strafdoele deur Christiaan Willemse (losskakel).
Paul Roos het vier strafdoele geslaag.
Die wedstryde was deel van die jaarlikse Oakdale Akkerfees.
Menige oud-skoliere het kamp opgeslaan op die skoolterrein vir die groot rugby.
Die dag het begin met die omliggende laerskole wat mekaar getakel het en na afloop van die wedstryde van die laerskole is daar afskeid geneem van mnr Lukas van Sittert, ‘n bekende skeidsregter in die kontrei wat na Potchefstroom verhuis.
Die lede van die wenspan van Oakdale is van links (agter) Myburgh Briers, Ruan Snyman, Kabous van Schalkwyk, David Marais, Jurie van Vuuren, Hugo Mulder, Theron Liebenberg, Gary Francis, Piet-Louw Strauss en Francois van der Vyfer (k). Middel: Simon Snyman, Nico Truter, Dawid Malan, Dewald de Lange, Michael Bernard (o/k), Ryno Wepener, Jandri Meyer, Jeandré Rudolph. Heel voor: Christiaan Willemse, Janneman Stander, JP Joubert.