GEORGE NUUS - Die SWD Arende het dit Vrydagaand 22 April die moeite werd gemaak vir hulle ondersteuners wat bereid was om die koue, nat weer op Outeniquapark te trotseer.
Die span het sy tweede oorwinning in die eerste divisie van die 2022 Curriebekerreeks behaal toe hy die Luiperds 17-15 geklop het.
Die span het nou twee oorwinnings uit drie wedstryde agter die rug, maar Vrydag was egter nie sommer net 'n wegholoorwinning nie. Tot op die einde was die uitslag in die weegskaal.
Die eindfluitjie het al geblaas en spel moes voortgaan. Die Luiperds het 'n drie gedruk en die telling was 17-15. Alles het afgehang van die doelskop. Ongelukkig vir die Luiperds was die bal teen die regter regoppaal vas.
Uitbundige tonele van vreugde het hulle op Outeniquapark afgespeel. 'n Glimlaggende Hennie Baartman, president van SWD Rugby, het gesê die oorwinning beteken baie. Die span verbeter elke week.
Anton Moolman, hoofafrigter, het Maandag gesê dis duidelik dat die span die afgelope vyf weke ontwikkel het. Hulle het die eerste 60 minute van die wedstryd beheer en hy is baie tevrede daarmee. Hy het gesê die Arende het ook goed verdedig in die laaste 20 minute.
"Die manne het karakter gewys in die wedstryd. Die Luiperds het nie verwag dat die wedstryd so sou uitspeel nie. Ons het met 'n plan ingegaan en hulle onder druk geplaas. Ons het die oorwinning verdien."
Hy het gesê die Arende verbeter met elke wedstryd. "Hulle speel met selfvertroue in die uitvoering van hul take."
Hy het gesê daar is wel fasette wat kan verbeter. "Ons moet in die vaste fasette beter verdedig. Dit moet aandag kry."
Volgens Moolman het die Arende beslis nog 'n kans in die reeks van die eerste divisie. Die span is op die oomblik in die vyfde plek.
• SWD o. 20 het ook Vrydag die streek se naam hoog gehou in nog 'n naelbytstryd. Die span het Grens o. 20 in Oos-Londen met 10-9 geklop.
'n Voorspeler van die Luiperds rank hoog na die bal tydens Vrydag se wedstryd.
Wat wag nou vir die Arende?
As wegwedstryde as 'n groot faktor beskou word, wag groot uitdagings op die Arende. Die eerste drie wedstryde was almal tuiswedstryde (OP/Olifante, Boland/Kavaliers en Luiperds), maar nou wag 'n aantal wegwedstryde. Die span het die komende naweek 'n afnaweek en speel die naweek van 7 Mei teen die Griffons in Welkom.
Die naweek daarna is dit die Valke in Kempton Park of Brakpan. Wat die uitdagings nog groter en interessanter maak is dat beide die spanne op die oomblik bo aan die punteleer is.
Na hul wedstryd teen die Valke kry die Arende darem weer 'n tuiswedstryd wanneer die span op 20 Mei teen die Zimbabwe Goshawks in George speel.
Die Arende op die aanval tydens Vrydag se wedstryd op Outeniquapark.
Die wedstryd tussen die Arende en die Luiperds Vrydag in volle swang.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'