GEORGE RUGBY-NUUS - Die SWD Arende (21 punte) gee weer die pas aan in die Curriebeker se Eersteliga nadat hy die Boland Kavaliers verlede Vrydagaand op Outeniquapark met 54-28 gewiks het.
Hiermee het hulle 'n tuishalfeindstryd op 12 Oktober op vasgemessel.
Maar daar is nog een lastigheidjie in die pad: die OP Olifante teen wie hulle Saterdag-middag in Despatch te staan kom.
Die Baaise span sukkel en kon in vyf wedstryde (3 punte) nog nie uit die rooi breek nie. Juis verlede week het die Valke die Olifante se gru-seisoen verder verfomfaai deur hulle met 'n kriekettelling (101-29) te vermorsel.
Die kanse dat die Arende teen die Olifante kan vasval, is bitter gerig. Maar snaakse dinge het al op die rugbyveld gebeur.
Die Bokke het in die onlangse verlede al skandes gemaak teen, onder andere, Japan (Japan wie?) en Italië...
Die Luiperds (20 punte) blaas in die Arende se nekke en sal in hul laaste ligawedstryd verwoed verg om hul eerste plek op die puntelys te herwin.
Vergeet van allerhande permutasies en los die sakrekenaar in die laai.
Tyler Fisher, buitesenter van die Arende (links voor), trek 'n Bolander aan sy trui grond toe met sy spanmaat Wynand Grassman, flank, wat hom in 'n kopklem vasgryp. Agter hou Lux Koza, stut, die petalje dop. Die Arende het die Boland Kavaliers met 54-28 afgeslag. Foto's: Anton Gericke en Hugo Redelinghuys
Wat vir die Arende nou die belangrikste is, is om die Olifante met 'n bonuspunt te klop.
Dit sal hulle 'n eindstryd tuis besorg. En dit klink baie beter as 'n wegeindstryd teen die Luiperds, die Valke of selfs die Boland Kavaliers.
Die span was met druktyd nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'